loading
avatar
Artikels
17 uur gelede
werksoek-bo-die-ouderdom-van-55-hoe-staan-jy-uit-as-werkgewers-dink-jy-is-te-oud

Foto Krediet: OkayDeer

Werksoek bo die ouderdom van 55 – hoe staan jy uit as werkgewers dink jy is te oud?

Deur Reon Janse van Rensburg

Wanneer jy bo die ouderdom van 55 is en op soek is na werk, kan dit vir jou voel of jy ʼn onsigbare hindernis moet oorkom. Ongelukkig is daar steeds ʼn persepsie dat ouer werknemers “té oud” is vir nuwe aanstellings; dat hulle moeilik sal aanpas, of dat hulle nie die nuutste tegnologie bemeester het nie. Maar die waarheid is dat jou jare se ervaring en jou vasberadenheid juis die dinge is wat jou bo die res kan laat uitstaan.

Hier is hoe jy hierdie uitdagings kan oorkom en jou waarde kan beklemtoon.

Die uitdaging van aanpasbaarheid

Baie werkgewers mag wonder of ouer kandidate maklik kan aanpas in ʼn vinnig veranderende werksomgewing. Een manier om hierdie vooroordeel te oorkom, is om jouself as leerbaar en aanpasbaar voor te stel. Wys dat jy gewillig is om nuwe vaardighede aan te leer, veral wat tegnologie betref. Dit kan so eenvoudig wees as om ʼn kursus in die nuutste rekenaarvaardighede of sagteware wat relevant is vir jou veld, te voltooi. Dit wys dat jy bereid is om tred te hou en saam met jonger kollegas te werk sonder om oorweldig te voel.

Solidariteit bied ʼn reeks kursusse en geleenthede vir voortgesette leer wat spesiaal ontwerp is om ouer werkende persone te help om hul vaardighede op te skerp en aan te pas by die eise van ʼn moderne werkplek. Hierdie kursusse dek verskeie temas, insluitend tegnologie, bestuursvaardighede en kommunikasie – alles onderwerpe wat help om by te bly by die nuutste ontwikkelinge en meer selfvertroue te kry. Deur hierdie leergeleenthede te benut, kan ouer werknemers hul kennis uitbrei en nuwe, relevante vaardighede aanleer wat hulle beter posisioneer in die arbeidsmark. Solidariteit se aanbod vir voortgesette leer fasiliteer nie net persoonlike groei nie, maar bou ook aan jou selfwaarde en aanpasbaarheid, wat belangrike bates is in die hedendaagse mededingende omgewing – en dit is gratis vir lede van Solidariteit!

Bewys jou energie en vasberadenheid

ʼn Algemene wanopvatting is dat mense bo 55 nie meer dieselfde energie en dryfkrag het nie, maar al die jare wat jy deel was van die arbeidsmark het jou geleer hoe om uitdagings trompop aan te pak. As ʼn onderhoud vir posisie met jou gevoer word, vertel van ʼn spesifieke sukses wat jy behaal het, of van ʼn moeilike situasie wat jy opgelos het. Wys hoe jy met toewyding en kreatiewe denke waarde kon toevoeg, en hoe jy steeds daardie entoesiasme het om probleme die hoof te bied. Sagte vaardighede soos dié is iets wat werkgewers hoog op prys stel.

Tegnologie as hindernis

Die aanname dat ouer werksoekers nie tegnologies vaardig is nie, is ʼn ander struikelblok. Selfs al voel jy tegnologie is nie jou sterkpunt nie, kan jy wys dat jy bereid is om te leer en aan te pas. Selfvertroue is die sleutel hier – noem enige nuwe vaardighede wat jy onlangs geleer het, en noem hoe jy proaktief bly deur te leer. Dit stuur die boodskap uit dat jy nie agterbly nie, maar eerder aanhou om jouself te verbeter. Met talle aanlyn platforms wat die geleentheid bied om nuwe kennis te verwerf, kan jy selfs in die gemak van jou huis die nuutste tegnologie baasraak.

Jou unieke ervaring en stabiliteit

Werkgewers twyfel dikwels oor hoe lank ouer werknemers in ʼn posisie sal aanbly, veral as hulle naby aftreeouderdom is. Maar wat hulle dalk nie besef nie, is dat jy juis stabiliteit en lojaliteit bring. Beklemtoon dat jy ʼn gevestigde loopbaan het en hoe jou ervaring jou nie net beter in jou rol maak nie, maar ook van jou ʼn mentor vir jonger kollegas kan maak. Hierdie ervaring kan ʼn kragtige bron van insig en leiding in die werkplek wees.

Gebruik jou netwerk

ʼn Mens bou waardevolle kontakte oor die jare op – mense wat jou vaardighede en werksetiek goed ken. Moenie huiwer om hulle te nader nie. Netwerk met jou kollegas en kennisse en kyk na opsies wat hulle dalk kan aanbeveel. Deur hierdie ondersteuning kan jy nie net ingelig word oor nuwe poste nie, maar dit kan ook ʼn goeie verwysing wees wat jou onder potensiële werkgewers kan laat uitstaan.

Solidariteit se beroepsnetwerke bied ʼn ideale geleentheid aan ouer werknemers om met ander kenners in hul veld te netwerk, kennis te deel en waardevolle kontakte te bou. Hierdie gemeenskappe help lede om by nuwe uitdagings aan te pas en om jare se ervaring te gebruik om waardevolle bydraes in hul beroepe te maak.

Ouer werknemers word aangemoedig om gebruik te maak van Solidariteit se werkfasilitering, wat ʼn waardevolle hulpmiddel bied in die soektog na nuwe werksgeleenthede. Hierdie platform maak dit maklik om toegang te kry tot inligting oor vakante poste en bied ondersteuning in die aansoekproses, wat help om die uitdagings van werksoek te verminder. Deur hiervan gebruik te maak, kan ouer werknemers hul ervaring en vaardighede effektief bemark en hul kanse op sukses in die arbeidsmark verbeter.

Met deursettingsvermoë en ʼn positiewe houding kan jy enige vooroordele oor ouderdom oorwin. Jou werkservaring wat oor jare strek, jou betroubaarheid en jou bereidheid om aan te hou leer en aan te pas maak van jou ʼn sterk kandidaat wat werkgewers nie kan ignoreer nie.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van ʼn aanlyn wêreld van werk. Hier kan jy na werk soek, leer en jou netwerk uitbrei. Klik hier om jou gratis profiel te registreer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel