loading
avatar
Blogs
5 dae gelede
solidariteit-maak-internasionale-impak-in-2025

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit maak internasionale impak in 2025

Deur Jaco Kleynhans, Hoof van Openbare Skakeling

Die afgelope jaar was ʼn onstuimige tyd in Suid-Afrika. Die regering het sy diskriminerende praktyke verder verdiep – veral met rassewette, maar ook in die onderwys en op verskeie ander terreine. Terselfdertyd het ʼn groot geskil tussen Suid-Afrika en Amerika (VSA) ontstaan, waarin Afrikaners ʼn beduidende rol ingeneem het. Hierdie omstandighede vereis sterk leierskap, dapperheid en ʼn span wat gereed is om terug te veg, maar ook om te organiseer en te bou. Solidariteit het in 2025 presies hierdie soort leierskap getoon.

Aan die begin van Februarie het die Amerikaanse president, Donald Trump, ʼn uitvoerende bevel oor Suid-Afrika onderteken. Dit was onmiddellik duidelik dat ernstige uitdagings vir Suid-Afrika en sy verhouding met die VSA voorlê. Danksy ʼn sterk netwerk van kontakte wat oor jare in die VSA opgebou is, kon Solidariteit onmiddellik met die Withuis begin skakel. Saam met die Solidariteit Beweging en AfriForum is die Amerikaanse hoofstad, Washington DC, binne drie weke ná die ondertekening van hierdie bevel besoek.

Sedertdien het Solidariteit twee opvolgbesoeke aan die Withuis gebring, en ʼn beduidende rol gespeel in die verlaging van tariewe op sekere landbouprodukte wat vanuit Suid-Afrika na die VSA uitgevoer word. Die Withuis, die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake en verskeie ander staatsdepartemente in Washington oorweeg tans ʼn reeks voorstelle van Solidariteit oor handel, ondersteuning aan die burgerlike samelewing in Suid-Afrika, asook die VSA beleid jeens die Suid-Afrikaanse regering.

Solidariteit se internasionale skakeling strek egter wyer as net die VSA. In 2025 is bande met Europa ook verder verdiep. Twee besoeke is aan die Europese Unie (EU) gebring om gesprekke te voer oor handel, ontwikkelingshulp, onderwys in Suid-Afrika, rassewette en hoe die EU daarteen standpunt kan inneem, asook ander belangrike sake wat ons lede raak en wat internasionale druk vereis.

Solidariteit se internasionale strategie sluit aan by ons plaaslike beleid van veg en bou. Ons moet veg teen die regering se vernietigende korrupsie, rassewette en die grootskaalse aanslag op Afrikaanse skole en kultuurgoedere wat regoor die land onder beleg verkeer. Dit doen ons deur hofsake, deur organisering binne gemeenskappe, deur samewerking met ʼn breë netwerk van organisasies, maar ook deur volgehoue onderhandeling met die regering en die gebruik van internasionale druk om die regering tot gesprek te dwing.

Terwyl ons veg en organiseer, kan ons egter nie nalaat om terselfdertyd vinniger aan volhoubare oplossings op grondvlak te bou nie. Die aantal studente wat jaarliks by Sol-Tech en Akademia studeer, en wat studiebefondsing deur Helpende Hand se studiefonds ontvang, het in 2025 drasties toegeneem. Dit is moontlik gemaak deur Solidariteit-lede se ledegeld. Oor die volgende paar jaar sal Sol-Tech verder uitgebou word, Akademia se nuwe kampus in Pretoria sal opgerig word, en die kampus in die Paarl sal ook uitgebrei word. Nuwe Afrikaanse skole moet gebou word, terwyl die Bela-wet verwoesting onder ons openbare skole gaan saai. Ons moet teen hierdie verwoesting veg, maar ook daadwerklike alternatiewe op die grond neersit.

Solidariteit is nie ʼn kom-en-gaan organisasie nie. Oor ʼn periode van 123 jaar het ons nog altyd geveg, georganiseer en gebou. Ons plaaslike en internasionale invloed het in 2025 verder toegeneem. Ons is deeglik bewus van die uitdagings in ons gemeenskappe, ons mense se vrese en bekommernisse, die voortdurende vlaag van emigrasie wat gesinne en gemeenskappe uitmekaar skeur, en jong mense se konfrontasie met ʼn regering wat teen hulle regeer.

Wees egter verseker daarvan dat Solidariteit in 2026 sal voortgaan om plaaslik en internasionaal vir ons lede in te tree. Opgee is nie ʼn opsie nie. In geloof en vertroue sal ons saam en self aanhou bou. Dit is juis hierdie ingesteldheid wat ons, ten spyte van doemprofete se uitsprake, nog altyd laat wen. Laat 2026 ʼn wenjaar wees!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel