Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit maan minister om in te gryp oor Unisa-personeel
Solidariteit het ʼn dringende versoek aan die minister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela, gerig om in te gryp te midde van die groeiende krisis rondom werkomstandighede by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).
Dit volg op berigte en terugvoer van werknemers wat volgens Solidariteit op ʼn ontstellende patroon van uitbranding, buitensporige werkdruk en vrees vir viktimisasie dui.
Solidariteit het in sy skrywe aan Manamela versoek dat ʼn onafhanklike assessor en assesseringspaneel ingevolge artikels 43, 44 en 45 van hoofstuk 6 van die Wet op Hoër Onderwys aangestel word.
Só ʼn ondersoek moet die omvang van die probleme vasstel, die uitwerking daarvan op werknemers ondersoek en aanbevelings maak oor maatreëls wat by Unisa ingestel moet word.
Sien die brief aan die minister hier.
Solidariteit het ook op 24 Augustus aan Unisa se visekanselier, prof. Puleng LenkaBula, geskryf om antwoorde van die universiteit self te eis.
Die vakbond wil onder meer weet watter stappe Unisa gedoen het nadat kommer oor werknemers se werkomstandighede en beroepsgesondheid en -veiligheid reeds vroeër onder die universiteit se aandag gebring is.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die tyd vir ontkenning verby.
“Ons het aanvanklik self ondersoek ingestel omdat ons nie bloot op mediaberigte wou staatmaak nie. Ons eie terugvoer van werknemers bevestig dat hier ʼn ernstige probleem is.
“Ons hoor van mense wat onder ondraaglike werklading gebuk gaan, personeeltekorte wat die druk vererger, ervare werknemers wat vroeër wil aftree en mense wat selfs tot mediese of sielkundige hulp wend om die druk te hanteer.
“Die minister kan nie nou sê hy weet nie. Ons het die getuienis formeel onder sy aandag gebring en hom gewys op die meganisme wat die wet vir ingryping bied. Daar moet nou opgetree word,” sê Hermann.
Onder die kwessies wat personeel uitlig en wat Solidariteit onder die minister en visekanselier se aandag gebring het, is die vermindering in die aantal nasieners en aanlyn tutors, wat tot onvolhoubare werklading bydra. Talle vakante poste bly ook ongevul, terwyl bestaande personeel noodgedwonge bykomende verantwoordelikhede moet aanvaar.
Werknemers met dekades se ervaring oorweeg selfs vroeë aftrede.
Die terugvoer wat Solidariteit ontvang het, dui daarop dat personeel naby aan ineenstorting is, uitgebrand voel en op ʼn breekpunt staan.
Volgens Hermann is een van die ernstigste bevindings egter die vrees onder werknemers om self oor die toestande te praat.
“Ons moes juis anonimiteit in die terugvoer waarborg omdat werknemers bang is vir viktimisasie.
“Dit is op sigself ʼn geweldige waarskuwingsteken. ʼn Universiteit kan nie ʼn gesonde werkomgewing hê wanneer werknemers voel hulle moet stilbly uit vrees vir wat met hulle kan gebeur as hulle praat nie,” sê Hermann.
Solidariteit verwelkom daarom ook die onlangse uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof nadat Unisa die hof genader het in ʼn poging om bepaalde beriggewing deur die joernalis Edwin Naidu en EdNews.Africa oor die beweerde bestuurskrisis by die universiteit te stuit.
Regter Colleen Collis het Unisa se aansoek van die dringende rol geskrap en die universiteit gelas om bestraffende regskoste te betaal. Unisa het onder meer die verwydering van bepaalde artikels en ʼn bevel teen verdere beriggewing verlang.
“Die antwoord op ernstige bewerings oor ʼn openbare instelling is nie minder vrae nie, maar meer antwoorde, groter deursigtigheid en ʼn behoorlike ondersoek,” sê Hermann.
“Unisa se dapper werknemers het begin praat. Solidariteit het hul stem nou tot by die minister geneem. Die volgende stap behoort nie nóg ʼn ontkenning te wees nie, maar ingryping.”