loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-maan-regering-oor-kragtarief-by-glencore

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit maan regering oor kragtarief by Glencore

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit neem kennis van die jongste kommunikasie van Japie Fullard, uitvoerende hoof van Glencore Alloys, rakende die voortsetting van afleggingsprosesse by Glencore-Merafe se ferrochroomsmelters, en waarsku dat die regering  slegs enkele weke oor het om ’n meer volhoubare elektrisiteitstarief te oorweeg.

Glencore-Merafe het reeds in Desember 2025 aangekondig dat hy beoog om ʼn artikel 189A-afleggingsproses by die Boshoek- en Wonderkop-ferrochroomsmelters in die Rustenburg-omgewing te inisieer, aangesien dié smelters ter wille van kostebesparing buite aksie gestel word.

Pogings om saam met die regering beter kragtariewe te onderhandel wat die aanlegte operasioneel sou hou, het tot dusver nie die nodige oplossing opgelewer nie. Gevolglik word ’n groot deel van Glencore se nagenoeg 2 400 werknemers steeds hierdeur geraak.

In Januarie 2026 het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) wel ’n tydelike elektrisiteitstarief van 87,74 sent per kilowatt-uur vir ’n tydperk van 12 maande goedgekeur vir die Glencore-Merafe Chrome Venture en Samancor Chrome.

Hierdie ingryping is daarop gemik om die sluiting van ferrochroom-smelters weens hoë energiekoste te voorkom. Dit is ’n beduidende verlaging vanaf die vorige tarief van 135,82 sent per kilowatt-uur.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, is die vakbond dankbaar vir die bevestiging van die 87 sent-tarief waarna Fullard en NERSA verwys.

“Dit bevestig dat daar wel dringend gekyk word na verlaagde elektrisiteitstariewe vir groot verbruikers, en in Glencore se geval beteken dit dat minstens een smelter – Lion – volhoubaar bedryf kan word,” sê Venter.

Solidariteit neem egter ook kennis van die artikel 189A administratiewe prosesse by Glencore-Merafe wat voortgaan ondanks die verlaagde tarief. Werknemers sal steeds hul formele skriftelike kennisgewings ontvang rakende afleggings en verwante prosedures.

Venter benadruk dat Solidariteit die regering hiermee weereens wil herinner aan die spertyd vir die oorweging van ’n verdere verlaagde elektrisiteitstarief – in die orde van ongeveer 62 tot 63 sent per kilowatt-uur – wat teen die einde van Februarie verstryk. “Indien só ’n tarief nie betyds ingestel word nie, sal werknemers wat nou skriftelik kennis ontvang, begin afgelê word by die twee smelters wat tans buite aksie gestel word,” waarsku hy.

Solidariteit bly versigtig optimisties dat ’n oplossing steeds moontlik is, maar maan die regering om nie tyd te mors nie. “Daar is nou net enkele weke oor voordat hierdie oorwegingstydperk verstryk. Indien daar nie betyds opgetree word nie, kan ’n groot aantal werkers se poste teen die einde van Februarie ernstig in gedrang wees,” sê Venter.

Die vakbond hou die proses fyn dop en vertrou dat daar wel ’n werkbare oplossing gevind kan word. “Solidariteit hoop egter dat die regering die nodige besluite binne die gestelde spertyd sal neem om verdere werksverliese te voorkom,” sluit Venter af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel