Foto Krediet: Universiteit van Pretoria | Facebook
Gekopieër
Solidariteit neem op 18 Maart 2026 deel aan parlementêre besoek
Solidariteit sal op 18 Maart 2026 deelneem aan ’n belangrike oorsigvergadering by die Parlement in Kaapstad, waar die Portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys die Universiteit van Pretoria sal ontvang.
Solidariteit het bykans 400 lede wat by die Universiteit van Pretoria (UP) werksaam is en sal daarom hierdie vergadering saam met ander vakbonde bywoon.
Volgens Anique Niemand, netwerkorganiseerder van die professionele bedryf by Solidariteit, is die doel van die vergadering om in gesprek te tree met die Universiteit se raad, bestuur, die Studenteraad, die Institusionele Forum en die erkende vakbonde oor die stand van sake by UP.
“Spesifieke fokusareas sluit in bestuur, administrasie, onderrig en leer, asook verwante aangeleenthede wat die instelling raak,” noem Niemand.
Solidariteit, saam met ander vakbonde, is uitgenooi om ’n gesamentlike voorlegging vanuit ʼn arbeidsperspektief te doen. Hierdie voorlegging sal onder meer fokus op:
- • die stand van sake by die universiteit vanuit die werknemers se perspektief;
- • die uitdagings wat werknemers tans ervaar; en
- • aanbevelings om die universiteit vorentoe te neem en te verbeter.
“Omdat ons ʼn groot ledebasis by die Universiteit van Pretoria het, is dit vir ons van kardinale belang om platforms soos hierdie te benut om ons lede se belange te beskerm en hul stemme op nasionale vlak te laat hoor,” sê Niemand. “’n Parlementêre platform bied ’n unieke geleentheid om werknemers se ervarings, bekommernisse en voorstelle direk onder wetgewers se aandag te bring.”
“Ons deelname aan hierdie proses bevestig weereens Solidariteit se verbintenis tot verantwoordbare bestuur van opleidingsinstellings, deursigtigheid en die beskerming van werkers se regte in die hoër onderwyssektor. Ons glo dat ons betrokkenheid en konstruktiewe voorstelle ’n betekenisvolle bydrae kan lewer tot die volhoubare ontwikkeling van die Universiteit van Pretoria.”
“Solidariteit sien uit daarna om op 18 Maart 2026 die stemme van sy lede met oortuiging en integriteit in die parlement te laat hoor,” sê Niemand.