loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-onderwysernetwerk-ontmoet-die-span

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit Onderwysernetwerk: Ontmoet die span

Wil jy graag weet wie die mense is wat jy bel wanneer jy ʼn probleem by die werk het? Die mense wat jou sake hanteer en wat in die hof vir die belange van jou beroep veg?

Ontmoet die span wat jou met al jou arbeidsverwante sake bystaan.

Mari Ferreira

“Die kapasiteit om te leer is ʼn gawe; die vermoë om te leer is ʼn vaardigheid; die bereidwilligheid om te leer is ʼn keuse.” – Brian Herbert

Mari is ʼn netwerkorganiseerder by Solidariteit en verbonde aan die Solidariteit Onderwysernetwerk en Skoliere-aanbod. Sy werk daagliks saam met skoliere, ouers en onderwysers om jong mense te ondersteun met vakkeuses, loopbaanbeplanning en studiegeleenthede.

Sy het haar honneursgraad in Ondernemingsbestuur aan Akademia voltooi en beskik oor praktiese ervaring in die arbeidswêreld, opleiding en ontwikkeling. Haar passie vir jong mense en die bemagtiging van toekomstige generasies dryf haar om leerders te inspireer om doelgerig oor hul toekoms te dink en ingeligte besluite oor hul loopbane te neem.

Yvette Erasmus

“Mense onthou dalk nie altyd wat jy gesê het nie, maar hulle onthou hoe jy hulle laat voel het.”

Yvette werk reeds die afgelope 15 jaar by Solidariteit⁠, waar sy betrokke is by netwerkontwikkeling, gemeenskapsprojekte en professionele ondersteuning in verskeie sektore. Sy beskik oor ʼn BTech-graad in Mensehulpbronbestuur, wat sy met cum laude voltooi het, asook ʼn nagraadse kwalifikasie in Projekbestuur.

Met haar passie vir mense, organisasieontwikkeling en gemeenskapsbou speel sy ʼn aktiewe rol in die versterking en ondersteuning van beroepsnetwerke.

Jo-Ann Potgieter

“Anything under God’s control is never out of control.”

Jo-Ann is ʼn organiseerder by die Solidariteit Onderwysernetwerk in die Mpumalanga-Hoëveldstreek. Sy is getroud en die trotse ma van ʼn vierjarige dogtertjie.

Jo-Ann het aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Johannesburg studeer en beskik oor waardevolle ervaring in verskeie bedrywe wat deur Solidariteit bedien word, onder meer die mynbou-, landbou-, metaal- en ingenieursbedryf.

Sy is passievol oor sport en geniet dit om te draf, bergfiets te ry asook padfiets te ry. Rugby en krieket geniet ook haar lojale ondersteuning. Haar geloof en liefde vir die Here vorm ʼn belangrike deel van haar lewe en waardestelsel.

Tiaan Schoeman

“ʼn Volk sonder eenheid is soos ʼn wa sonder wiele.”

Tiaan het in die Laeveld grootgeword. Ná skool het hy ʼn Christelike diensjaar voltooi, waarna hy aan die Noordwes-Universiteit studeer het.

Daarna het hy vir vyf jaar in Xi’an, China, skoolgehou. In 2020 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en by Barberton Laerskool begin skoolgee. Sedert 2024 is Tiaan deel van die Solidariteit-span.

Omdat hy self ʼn onderwyser was, verstaan hy die uitdagings en realiteite waarmee onderwysers daagliks te doen kry en is hy goed toegerus om hulle te ondersteun.

Nadia Coetzee

“As jy op water wil loop, moet jy eers uit die boot klim.”

Nadia is in Vereeniging gebore en het daar grootgeword. Sy is getroud en die trotse ma van ʼn negejarige seun.

Sy het haar BCom-graad in 2011 aan die Noordwes-Universiteit verwerf en het in 2013 haar honneursgraad deur Unisa voltooi.

Nadia het haar loopbaan in 2009 by Solidariteit se Vaaldriehoek-kantoor as kantoorpraktisyn begin. In 2013 het sy na die sektore-afdeling oorgeskuif, waar sy aanvanklik in die professionele sektor en later in die mediese sektor gewerk het.

Sy was tot einde 2025 by die mediese sektor betrokke, waarna sy by Solidariteit se Onderwysernetwerk aangesluit het.

Johan Barnes

“Die beste onderwyser leef die les wat hul onderrig.”

Johan fokus hoofsaaklik op litigasie binne die onderwysomgewing.

Hy het ʼn BCom-graad in Mensehulpbronbestuur verwerf en daarna sy nagraadse kwalifikasie in Arbeidreg aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. In 2025 het hy ook ʼn Gevorderde Diploma in Projekbestuur voltooi. 

Voordat hy vyf jaar gelede by Solidariteit aangesluit het, het hy as arbeidsverhoudingspraktisyn by Itau Milling gewerk, waar hy waardevolle ervaring in arbeidsreg opgedoen het.

Johan van Eck

“Onderwys lê die fondament vir elke kind se droom.”

Johan het aan Hoërskool Transvalia gematrikuleer. Ná skool het hy aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer waar hy ʼn BCom-graad in Bedryfsielkunde met Arbeidsverhoudinge, asook ʼn honneursgraad in Arbeidsverhoudinge, voltooi het.

Hy het sy loopbaan in die landbousektor by Solidariteit se Klerksdorp-kantoor begin, waar hy drie jaar lank waardevolle ervaring opgedoen het.

Sedert Januarie 2026 is hy deel van die Solidariteit Onderwysernetwerk by die netwerkkantoor in Nelspruit – ʼn plek waar sy passie vir mense en sy liefde vir die onderwys mooi saamvloei.

Hy is getroud met ʼn onderwyserassistent wat tans besig is om haar onderwysstudies te voltooi. Daarom verstaan hy die kuns van harde werk, sperdatums, laat aande en groot hoeveelhede koffie baie goed!

Henco Breytenbach

“Onderwys is nie die werk van een persoon nie – dit is die krag van ‘n gemeenskap wat saam leer, groei en inspireer.”

Henco is die koördineerder van Solidariteit se Onderwysernetwerk, waar hy hom daagliks toespits op die bevordering, ondersteuning en beskerming van die onderwysberoep in Suid-Afrika. Met ‘n BSocSci-graad in Arbeidsverhoudinge beskik hy oor kennis van arbeidsreg, werksplekverhoudinge en professionele ondersteuning, wat hy gebruik om onderwysers en Solidariteit-lede by te staan, te ondersteun en effektief te verteenwoordig.

ʼn Betroubare span wat werklik omgee

Een ding wat elke lid van hierdie span in gemeen het, is ʼn opregte waardering vir onderwysers en ʼn passie om hulle in hul loopbane te ondersteun.

Bly ingeskakel by die Solidariteit Onderwysernetwerk en wees deel van ʼn netwerk wat werklik omgee.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel