
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit pak ongrondwetlike rasseteikens tydens openbare verhore
Solidariteit het sterk kapsie gemaak teen rassereëls in die werkplek wat steeds op ʼn onbehoorlike wyse deurgedruk word. Solidariteit het ernstige besware teen hierdie rigiede rasseregulasies as maatstaf gebruik gedurende ʼn openbare verhoor. Lees Solidariteit se standpunt hieronder.
Solidariteit het die week van die geleentheid gebruik gemaak om sterk kapsie te maak teen rassereëls in die werkplek wat steeds op ʼn onbehoorlike wyse deurgedruk word.
Dit geleentheid ter sprake is die Departement van Arbeid se openbare sittings wat deel is van sy openbaredeelnameproses, waar Solidariteit voorleggings gedoen het oor die ongrondwetlikheid en irrasionaliteit van die departement se regulasies vir sektorale rasseteikens. Die regulasies is gepubliseer ingevolge die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, wat op 1 Januarie 2025 in werking getree het.
Hierdie openbaredeelnamesittings het tussen 11 en 19 Februarie 2025 plaasgevind en bied aan belangegroepe die geleentheid om insette oor die rasseteiken-regulasies in die wet te lewer.
Die wet kom nou veral onder skoot. Dit verleen mag aan die minister van arbeid om sektorale demografiese teikens – oftewel rassesyfers – deur middel van regulasies vir verskillende beroepsektore vas te stel.
Hierdie maatreëls dwing werkgewers om aan spesifieke rassevereistes of telkaarte te voldoen. Die kwansuise doel is om werkplekke te transformeer sodat hulle dan die demografie van die land weerspieël.
Solidariteit het egter ernstige besware teen hierdie rigiede rasseregulasies as maatstaf.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê hierdie slinkse poging van die Departement van Arbeid om in die regulasies te publiseer in weerwil van sy skikking oor ras wat met Solidariteit bereik is, is onaanvaarbaar.
“Terwyl ons hier met ʼn stel regulasies te doen het wat aanstelling- en bevorderingspraktyke op elke vlak van ʼn werkplek wesenlik gaan beïnvloed, voldoen die departement nie eers aan die minimum basiese vereistes om wettig en rasioneel te wees nie.
“Nie net is dit direk strydig met die skikking wat die regering met ons aangegaan het nie, maar die onbevoegdheid van die staatsamptenare om die regulasies volgens wet voor te stel, is absoluut verstommend,” het Van der Bijl gesê.
Alhoewel Solidariteit homself verbind tot gesprekvoering, sal hy voortgaan met sy veldtog om Suid-Afrika van die las van rassewette te bevry. Indien sy insette teen die regulasies nie aanvaar word nie, sal hy die regulasies deur middel van litigasie stuit.
Sien ook hier Solidariteit se resolusie oor die stryd teen rassewette wat sy Hoofraad aanvaar het.