Foto Krediet: Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut
Gekopieër
Solidariteit rus toekomstige tuisversorgers toe met noodsaaklike beroepsgesondheid en -veiligheidsvaardighede
Robin-Lee Maré
Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) het onlangs opleiding in beroepsgesondheid en -veiligheid aan 30 studente van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut aangebied.
Die studente, wat as tuisversorgers opgelei word, het praktiese kennis ontvang om hul eie gesondheid en veiligheid, én dié van die mense vir wie hulle sorg, beter te beskerm.
Die BGV-kursus fokus op die identifisering van risiko’s in die werksomgewing, die voorkoming van beroepsbeserings en -siektes, en die toepassing van veilige en gesonde werkspraktyke. Hierdie kennis is van besondere belang vir tuisversorgers, wat daagliks in uiteenlopende omgewings werk waar hulle aan verskeie gesondheids- en veiligheidsrisiko’s blootgestel kan word.
Volgens Johan Böning, hoof van Solidariteit se beroepsgesondheid en -veiligheid-afdeling, vorm beroepsgesondheid en -veiligheid ʼn noodsaaklike deel van enige beroepsopleiding.
“Goeie kennis van beroepsgesondheid en -veiligheid help nie net om ongelukke en beserings te voorkom nie, maar stel individue ook in staat om hul werk met groter selfvertroue en professionaliteit te verrig. Wanneer werknemers weet hoe om risiko’s te identifiseer, veilig op te tree en verstaan hoe vergoedingseise werk, beskerm hulle hulself sowel as die mense wat op hulle staatmaak,” sê Böning.
Solidariteit se BGV-afdeling bied ook soortgelyke opleiding by Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania aan. Studente in verskeie studierigtings, waaronder ambagte, vroeë kinderontwikkeling, tuisversorging en landbou, ontvang opleiding wat spesifiek op hul onderskeie werksomgewings van toepassing is. Die BGV-afdeling bied ook beroepsgesondheid en -veiligheidsopleiding aan onderwysers op versoek.
Die behoefte aan hierdie opleiding groei voortdurend namate werkgewers en opleidingsinstellings groter klem plaas op veilige en gesonde werksomgewings en die voorkoming van beroepsbeserings en -siektes.
“As ons mense reeds tydens hul opleiding toerus met die regte kennis en ingesteldheid, lê ons die grondslag vir veiliger werkplekke regoor Suid-Afrika. Voorkoming is altyd beter as genesing, en beroepsgesondheid en -veiligheid behoort deel van elke werknemer se vaardigheidstel te wees,” voeg Böning by.
Hoewel die primêre fokus op die voorkoming van beroepsbeserings en -siektes is, spreek die opleiding ook die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COIDA) aan, wat werknemers toerus met kennis van hul regte en verantwoordelikhede in geval van ʼn beroepsbesering of -siekte. Dit dek die werkgewer se plig om beroepsbeserings en -siektes binne die voorgeskrewe tydperk by die relevante vergoedingsfonds aan te meld, werknemers se reg op vergoeding, tydelike en permanente ongeskiktheidsvoordele, die reg om beswaar te maak teen die vergoedingsfonds se beslissing en die feit dat werknemers nie ʼn siviele eis teen hul werkgewer kan instel vir ʼn beroepsbesering of -siekte nie.
Solidariteit se BGV-afdeling hanteer meer as 700 eise namens Solidariteit-lede en bied professionele regsadvies en verteenwoordiging in hierdie verband.
Solidariteit se BGV-afdeling sal hierdie opleiding verder uitbrei wanneer die span in Augustus, op uitnodiging van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, beroepsgesondheid en -veiligheidsopleiding aan onderwysers in die Ceres-omgewing aanbied.
Deur opleiding soos hierdie dra Solidariteit by tot die bevordering van ʼn gesonde en veilige kultuur in werkplekke, die verbetering van nakoming van gesondheids- en veiligheidsvereistes, en die ontwikkeling van werknemers, én lede, wat hul beroepe vry, veilig en voorspoedig kan beoefen.
Vir meer inligting oor Solidariteit se BGV-waardeaanbod en BGV-kursus, stuur gerus ʼn e-pos na badbgv@solidariteit.co.za.