loading
Mediaverklarings
11 maande gelede
solidariteit-se-ekonomiese-herstelplan-gee-tegelyk-hoop-en-rig-n-waarskuwing

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se ekonomiese herstelplan gee tegelyk hoop én rig ʼn waarskuwing

Suid-Afrika se ekonomiese potensiaal word deur eie toedoen belemmer en tog hoef dit glad nie die geval te wees nie. Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se ekonomiese herstelplan is vandag bekendgestel waarin hierdie waarskuwing, asook ʼn boodskap van hoop aan Suid-Afrikaners uitgestuur word.

ʼn Afskrif van hierdie plan is ook aan die nasionale tesourie in Pretoria oorhandig en die hoop word uitgespreek dat daar tóg nou op sinvolle ekonomiese beleidsrigtings vertrou sal kan word.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die SNI, is groei onontbeerlik vir die staat om eerstens sy finansies in orde te kry sonder om verdere druk weens belasting op landsburgers te plaas.
Hy beklemtoon vyf prioriteite wat die staat moet nastreef om dít te kan vermag:

  • • die daarstel en instandhouding van infrastruktuur 
  • • ʼn ligte belastinglas wat voorspelbaar is
  • • ʼn stabiele geldeenheid
  • • ʼn goed opgeleide arbeidsmag
  • • die handhawing van wet en orde

Alhoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie volgens feitlik alle maatstawwe in groot moeilikheid verkeer, kan ernstige ingryping ʼn verskil begin maak.

“Dit is inderdaad moontlik om, selfs nóú, van koers te verander. Solidariteit glo dat sterk ekonomiese groei die basis is vir ʼn sterk Suid-Afrika waarin alle gemeenskappe tot hulle reg sal kom.

“Hierdie verslag stel ʼn duidelike plan voor waarmee hierdie sterk, volgehoue groei bereik sal kan word,” sê Du Buisson.

Solidariteit hoop daar word in die weke ná die verkiesing, waarin soveel politieke verandering teweeggebring is, ag geslaan op voorstelle wat die Suid-Afrikaanse ekonomie onmiddellik én op die lang termyn kan bevoordeel. 

“Ons hoop die nuwe administrasie, noudat dit effens vryer van sterk ideologiese boeie is, beter besluite rakende die ekonomie sal kan begin neem. Eers dán kan daar aandag gegee word aan uitdagings soos armoede en ongelykheid.

“Dit is ʼn geleentheid om ʼn koers in te slaan wat ons wéét kan werk, aangesien dit ook al elders gewerk het. Wat egter nodig is, is die bereidwilligheid om dit te erken en dan tot optrede oor te gaan,” sê Du Buisson.

Du Buisson sê enkele voorstelle in die SNI se ekonomiese herstelplan, soos dié oor universele basiese inkomste, is nie so bevorderlik vir groei soos hy dit sou verkies nie, maar is tog al uitweg onder die huidige omstandighede.

“Die toelaagstelsel bly natuurlik ongewens, want dit hou mense afhanklik van die staat. Aangesien soveel mense rééds afhanklik is, is die beste uitweg vir die huidige om dit meer vaartbelyn te maak met ʼn duidelike uiteensetting van wanneer en onder watter omstandighede dit uiteindelik beëindig sál word,” sê hy.

Lees die SNI se volledige ekonomiese herstelplan hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel