
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se #Hoofleierontbyt2024: Die jong mense is die toekoms van ons land
Deur Kyla-Ann du Toit
Solidariteit het op 25 Oktober 2024 sy jaarlikse Hoofleierontbyt aangebied. Vyftig hoofleiers en 27 onderwysers het by Loft at Nine in Pretoria bymekaargekom en daar het groot opgewondenheid geheers. Hierdie geleentheid is ook vir die eerste keer in die Wes-Kaap gehou waar hoofleiers en onderwysers by Nine Oaks in die Paarl byeen gekom het.
Hoofleierontbyt is ʼn geleentheid vir jong mense om netwerke te bou
Izelle Palmer, afdelingshoof van Solidariteit se Skoliere-aanbod, meen die Hoofleierontbyt is ʼn geleentheid vir jong mense om netwerke te bou. “Dit is vir Solidariteit belangrik om hierdie hoofleiers se nuwe fase te vier, asook vir húlle om ʼn samekoms te hê waar hulle hul leierskap kan vier.”
“Dit is awesome om hierdie groep leiers bymekaar te sien. Ek het lekker vriende gemaak en kan nie wag vir dit wat voorlê nie,” sê Christiaan Schlebusch, hoofseun van Hoërskool Florida vir 2025. Die leerders het die geleentheid gekry om met mekaar te netwerk terwyl Ou Tekkies almal met hulle musiek vermaak het. Daar is heerlik geëet, gekuier en gedans. Daar was ook ʼn gelukkige trekking waarin drie leerders pryse gewen het.
Dr. Rachel Maritz, dekaan aan die stuur van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, was die gasspreker vir hierdie geleentheid. “Dit is nodig dat ons jong mense hierdie geleentheid kry,” sê sy. Dr. Maritz meen ook leierskapvaardighede is vir die res van ʼn persoon se lewe belangrik en dat jong mense hierdie vaardighede in die res van hul lewe kan toepas.

Amoré Knoetze, hoofdogter van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria vir 2025 en junior burgemeester van Pretoria, meen die jeug is die toekoms van Suid-Afrika. Sy glo dat dit nodig is om die jeug met die nodige vaardighede toe te rus en vir hulle die hoop en visie te gee om ons land ʼn beter plek te maak.
Solidariteit se Skoliere-aanbod fokus juis op die voorbereiding van vandag se jong mense vir die uitdagings van die toekoms. Hierdie spesiale ontbyt is bedoel om erkenning te gee aan die leerders wat in 2025 as hoofleiers van hul onderskeie skole ʼn leierskapsrol gaan beklee. Daar is egter geen twyfel dat hierdie jong leiers hul rolle met sukses sal vervul nie.
Volgens Felicia Richardson, ʼn spesialis verbonde aan Solidariteit se Skoliere-aanbod, is die doel van die Hoofleierontbyt om ons jong leiers te vier, sowel as om ʼn ruimte te skep waar hulle kan netwerk, mekaar kan inspireer, ondersteuning in soortgelyke uitdagings kan bied en saam ʼn blink toekoms vir hulself, ons taal en ons kultuur kan bou. “Solidariteit se Skoliere-aanbod fokus op die ondersteuning van skoliere gedurende hulle hoërskoolreis. Ons bied gratis hulpbronne aan omdat ons wil hê dat elke Afrikaanse jong mens nie net goed sal vaar nie, maar werklik sal floreer,” sê sy. “Dit is vir Solidariteit belangrik om ʼn toekoms te skep waarin ons en ons kinders vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan woon en werk.”
Felicia het hierdie spesiale geleentheid met die volgende woorde afgesluit: “Mag die bande wat julle vandag gesmee het, ʼn lang en waardevolle impak in julle lewens hê, en mag julle voorspoedig wees in alles wat julle aanpak.”
Ons kinders is ons toekoms, en Solidariteit bou aan ʼn samelewing waarin ons jong mense vry, veilig en voorspoedig in Afrikaans hier aan die suidpunt van Afrika kan skoolgaan en studeer. Solidariteit wil die volgende aan elke jong mens sê: Kyk vreesloos na die toekoms, want #JyHoortHier!
