loading
Mediaverklarings
2 weke gelede
solidariteit-se-ngv-beraad-mediese-instellings-moet-nou-saam-in-die-kryt-klim

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se NGV-beraad – mediese instellings moet nou sáám in die kryt klim

Solidariteit het sy sterkste beroep nóg op mediese beroepslui en instellings gedoen om saam tot die stryd teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) toe te tree.

Tydens ʼn NGV-beraad van Solidariteit is die impak wat die stelsel op gesondheidsdienste in die land kan hê, sou die wet bekragtig word, in diepte bespreek. Die werksaamhede van diegene in mediese beroepe gaan ook op talle vlakke daardeur geraak word.

Mediese instellings en verenigings is gevra om Solidariteit se beplande regstryd teen die NGV te steun.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die gevolge daarvan om niks hieromtrent te doen nie, kan verwoestend wees vir die mediese bedryf en lewensbedreigend vir Suid-Afrikaners.

“Die NGV is ʼn werklikheid indien dit nie deur die gemeenskap gestop word nie. Die implementering van die wet gaan erge gevolge vir medici in die land inhou. Die mediesewaardeketting word in die hande van die staat geplaas – ʼn staat met lang geskiedenis van groot mislukking,” sê Hermann.

Volgens Hermann lê die antwoord in privatisering en nie in staatsentralisering nie. Die staat is ʼn mislukking en die gemeenskap en bedrywe moet teen die NGV-wetsontwerp opstaan.

“Dieselfde staat wat reeds die staatshospitale verwoes het, sal onder die NGV en die implementering daarvan drakoniese magte oor die hele mediese sektor uitoefen,” sê Hermann.

Volgens Hermann het die regering tot dusver geen belangstelling getoon om na instellings, kenners en individue se insette en waarskuwings oor die NGV te luister nie.

Solidariteit staan egter gereed om die regering in ʼn reusestryd in die hof te pak en glo dit is in die beste belang van diegene in die mediese bedryf om dié regstryd te steun.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit en hoof van regsake, sê Solidariteit glo die wetsontwerp is in sy totaliteit ongrondwetlik.

“Dit is duidelik dat die NGV wesenlike belastingimplikasies gaan veroorsaak – en in so ʼn geval bepaal die Grondwet dat so ʼn belastingsimplikasie ʼn geldwetsontwerp moet wees wat deur Enoch Godongwana, die minister van finansies, ingestel word,” sê Van der Bijl.

Geen geldwetsontwerp is deur die minister van finansies vir die NGV opgestel nie en die vrae rondom die uitwerking van die NGV-wetsontwerp wet op belasting bly dus onbeantwoord.

Van Der Bijl is verder van mening dat enige wetgewing met ʼn behoorlike volhoubaarheidstudie gepaardgaan. Volgens hom het die regering geen onlangse of behoorlike volhoubaarheidstudie rakende die NGV gedoen nie.

Solidariteit moedig diegene in die mediese bedryf aan wat sy regsaksie wil steun om die registrasieblad te besoek waar hulle inligting kan kry oor maniere om ʼn bydrae tot hierdie stryd te maak.

Volg die skakel hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel