loading
Artikels
4 uur gelede
solidariteit-se-onderwyser-van-die-jaar-wenners-is-aangekondig

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-wenners is aangekondig!

Die aap is uit die mou en die wenners in elke kategorie van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is bekendgemaak. Dit is duidelik dat hierdie onderwysers hulle roeping as onderwysers nie net ernstig opneem nie, maar ook as ʼn geleentheid sien om ʼn verskil te maak in hul leerders se lewens en die gemeenskap. Hierdie wenners word erken vir hul buitengewone toewyding en unieke bydraes tot hul skole. Elkeen van hulle los nie net ʼn groot impak op hul leerders nie, maar hulle het ook inspirerende verhale wat hul loopbane en persoonlike reise vorm. Hulle is werklike voorbeelde van ware roepingsgedrewe onderwysers.

Hier is die wenners in elke kategorie

Lerine Roberts van Norienes Kleuterskool

Lerine Roberts, ook bekend as Juffrou Lien, het haar hart verloor op die kleuters van Norienes Kleuterskool. As ʼn juffrou vir 2- tot 3-jariges in die Vissie-klas, is sy elke dag besig om ʼn verskil in haar kleuters se lewens te maak. “Om ʼn juffrou te wees maak my glas vol; ek leef my passie elke dag uit,” sê Lerine.

Sy sien haarself as ʼn baanbreker wat die fondasie van die toekoms help bou. Elke dag bied vir haar die geleentheid om ʼn verskil te maak en sy het nog nooit getwyfel oor haar beroep nie. Haar drome is boonop ook nog groot! “Ek droom daarvan om eendag my eie kleuterskool oop te maak waar ek ʼn groter impak kan hê, asook om mense wat dieselfde liefde vir kinders het, ʼn werkgeleentheid te kan gee. Ek is ʼn juffrou met ʼn liefde vir wat ek doen, nie omdat ek dit gekies het nie, maar omdat God my gekies het en daarvoor is ek oneindig dankbaar.”

Adriaan Pretorius van Laerskool Hennopspark

Adriaan Pretorius, ʼn Wiskunde-onderwyser by Laerskool Hennopspark, is ʼn ware voorstander van Afrikaanse onderrig en gebruik tegnologie om sy leerders se begrip te versterk. Met 14 jaar se ervaring agter sy naam, is Adriaan bekend vir sy gebruik van platforms soos die Wolkskool van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) en ander tegnologiese hulpmiddels soos Microsoft PowerPoint.

Adriaan se vermoë om tydens die uitdagende Covid-19-pandemie innoverende aanlyn Wiskundeklasse te skep, het nie net sy skool nie, maar ook ander onderwysers en leerders bemagtig. Hy bly aktief betrokke by die nuutste onderwysontwikkelings deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Onderwys (SACE) se aanlyn opleidings. Sy administratiewe werk en lesbeplanning is van die hoogste gehalte, en hy is ook baie betrokke by buitemuurse aktiwiteite soos sport, kultuur en IT-ondersteuning.

Johan Nolte van Hoërskool Oos-Moot

Johan Nolte, van Hoërskool Oos-Moot, het ʼn passie vir innoverende onderwys en spesialiseer in RTT, IT en Robotika. Hy is ook die organiseerder van die skool se CSV-groep, Oosie-Lig, en het e-sport by die skool gevestig. Johan is ʼn baanbreker in tegnologiese onderrig en sy entoesiasme vir e-sport het ʼn hele nuwe dimensie tot die lewens van sy leerders gebring.

Hy is oortuig daarvan dat sy reis na onderwys met ʼn spesifieke doel vir hom uitgelê is. “Ek het onderwys gestudeer as gevolg van ʼn visie wat die Here my gegee het. Nou gaan Hy my graad in Onderwys gebruik om deure in Afrika oop te maak.” Johan is tans besig om voorbereidings te tref vir sy nuwe avontuur in 2025, waar hy van plan is om na Madagaskar te immigreer en daar as sendeling te werk. Hy het ook sy dankbaarheid teenoor Solidariteit uitgespreek en gesê: “Ek is dankbaar dat Solidariteit die harde werk raaksien wat onderwysers doen en dat hulle onderwysers waardeer.” Sy toewyding aan sy roeping is duidelik: “Alles wat ek is en het, is tot eer van Jesus Christus.”

“Die Onderwyser van die Jaar-kompetisie gee elke jaar vir ons die besondere groot voorreg om erkenning aan besonderse onderwysers te kan gee. Elkeen van ons finaliste was só waardig om hierdie toekenning in ontvangs te kon neem. Dit is weereens vir ons ʼn bewys dat ons Afrikaanse skole en onderwysers die ekstra myl loop om seker te maak dat ons jong mense ʼn voorspoedige toekoms in hierdie land het. Dit is ons manier om dankie te sê en vir hulle die erkenning te gee wat hulle selde kry. Onderwys is baie keer ʼn ondankbare beroep en dit is hoekom ons hierdie platform daargestel het om mense die geleentheid te gee om vir die onderwysers dankie te kan sê. Dit is ook hoekom Solidariteit só hard teen die Bela-wet baklei om seker te maak dat hierdie onderwysers kan doen wat hulle doen en dat hulle elke dag ʼn groot verskil in hulle leerders se lewens kan maak,” het Anlia Archer, bedryfspesialis en netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk gesê.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk is trots om hierdie uitsonderlike onderwysers te vereer. Hulle het nie net hul leerders verryk nie, maar is ook bronne van inspirasie vir kollegas in die onderwys. Ons wens vir elkeen van hulle opreg geluk en waardeer hul onmiskenbare toewyding aan die onderwys en die groei van jong mense in Suid-Afrika.

Die toekoms van onderwys is helder met onderwysers soos Johan, Adriaan en Lerine wat elke dag hul passie uitleef en leerders se lewens op onvergeetlike maniere aanraak.

Klik hier en raak betrokke by Solidariteit se Onderwysernetwerk. Wie weet dalk is jy ons volgende Onderwyser van die Jaar!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel