
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se Skoliere-aanbod: opwindende projekte vir 2025
Ouers én skoliere kan uitsien na hierdie projekte wat Solidariteit se Skoliere-aanbod in 2025 bied. In hierdie blog kan jy uitvind hoe Solidariteit jou kind op skool reeds bemagtig om suksesvol te wees. Kyk uit vir ʼn videoreeks oor leierskap, die reeks webinare vir ouers met belangrike onderwerpe wat Solidariteit in 2025 aanbied en vele meer. Bemagtig jou kind vir die toekoms!
Deur Felicia Richardson, Spesialis: Skoliere
2025 beloof om ʼn jaar vol inspirerende geleenthede, nuwe produkte en opwindende samewerking by Solidariteit se Skoliere-aanbod te wees. Ons span werk onverpoosd om vir jong mense die beste hulpmiddels te bied vir persoonlike groei, loopbaanvoorbereiding en leierskapsontwikkeling. Hier is ʼn voorsmakie van wat alles in 2025 op julle wag:
Reeks webinare
Ons splinternuwe GRATIS webinare-reeks gaan fokus op temas wat relevant is vir leerders én hul ouers. Ons raak temas aan soos damprook (vaping), vakkeuses, eksamenvoorbereiding, loopbaanbeplanning en tienerangs/depressie. Hierdie webinare is ontwerp om praktiese ondersteuning te bied. Ons eerste webinaar skop af op 20 Februarie om 19:00 – moenie dit misloop nie! Laai die volledige 2025-webinareprogram hier af.
Leierskapsvideoreeks
Leierskap is ʼn kernvaardigheid wat elke jong mens behoort te ontwikkel. Ons nuwe Leierskapsvideoreeks bestaan uit ses insiggewende hoofstukke, en ons spreek temas aan soos deelnemende leierskap, “Wie is ek en watter tipe leier is ek?”, uniekheid en identiteit, ensovoorts. Hierdie videoreeks is perfek vir jong leiers of potensiële leiers wat wil leer hoe om ʼn positiewe impak in hul gemeenskappe te maak.
Tienerjoernaal: Tienertruuks vir oorlewing
Hierdie unieke joernaal is meer as net ink op papier; dit is ʼn gids tot selfontdekking. Jong mense sal gevul word met praktiese aktiwiteite en waardevolle insigte wat hulle help om hul identiteit te verken en hul selfvertroue te bou. Die joernaal beklemtoon:
- • Die belangrikheid van selfkennis
- • Hoe om sterk te staan in uitdagende tye
- • Die waarde van eiesoortigheid en respek vir ander
Dit is die ideale hulpmiddel vir tieners wat hul pad na volwassenheid met selfvertroue wil aanpak.
Jaarlikse Hoofleierontbyt
Ons gewilde Hoofleierontbyt keer weer terug in 2025! Hierdie spesiale geleentheid bring jong leiers bymekaar vir ʼn oggend gevul met inspirasie, netwerkgeleenthede en toesprake wat motiveer.
Kinderhuisprojek
In 2025 neem ons hande met ander instellings om leerders van vier kinderhuise – Bramley, Jakaranda, Louis Botha en Pres. Kruger – te ondersteun. Gemeenskap is vir ons van kardinale belang, veral om ondersteuning te bied waar daar nie noodwendig ouers is om hierdie jong mense te ondersteun nie. Hierdie projek bied akademiese en loopbaanbegeleiding, asook emosionele en praktiese ondersteuning. SOS borg gratis toegang tot Wolkskool, en Albert van Wyk bied sy waardevolle Maak My ’n Miljoener-kursus gratis aan hierdie leerders. Kyk uit vir meer oor hierdie projek.
Loopbaandae by skole
Ons span sal ook teenwoordig wees by skole se loopbaandae. Besoek ons stalletjie vir meer inligting oor hoe Solidariteit se Skoliere-aanbod kan help met loopbaanbeplanning, studieondersteuning en lewensvaardighede.
Navorsing onder ouers, onderwysers en jong mense
In 2025 loods ons ’n spesiale navorsingsprojek onder ouers en onderwysers om te verstaan watter uitdagings hulle ervaar met betrekking tot jong mense. Ons wil ook hoor watter voorstelle julle het om Solidariteit se Skoliere-aanbod se hulpbronne en dienste verder uit te brei. Die insigte uit hierdie navorsing gaan ons help om in 2026 navorsing onder die leerders self te doen. Ons streef daarna om die jeug beter te verstaan en meer toepaslike ondersteuning te bied.
2025 is propvol moontlikhede en hulpbronne om ouers en ons jong mense te help om hulle volle potensiaal te bereik. Ons sien daarna uit om saam met julle hierdie reis aan te pak.
Besoek ons webwerf by www.solidariteit.co.za en hou ook ons sosialemediaplatforms dop vir die jongste nuus.
Solidariteit se Skoliere-aanbod – jou vennoot op jou pad na die toekoms.