loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-se-skoolverlatersverslag-2023

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit se Skoolverlatersverslag 2023

Deur Heléne Leonard

Solidariteit se Skoolverlatersverslag is in 2021 vir die eerste keer onder leerders versprei en dit was só ʼn sukses dat dit in 2023 vir die derde keer onder leerders uitgestuur is, hierdie keer nasionaal. Die verslag fokus onder andere op matrikulante nasionaal se gevoelens rondom Afrikaans as huis- en onderrigtaal, hulle beplanning rondom studie en hoe die Covid-19-pandemie hulle beïnvloed het

Die aanvanklike studie is in Mei 2021 deur Solidariteit Jeug van stapel gestuur. In 2022 is die studie uitgebrei na Gauteng met 17 skole en 2 180 leerders het daaraan deelgeneem. In 2023 is daar besluit om die studie op ʼn nasionale vlak uit te voer. Daar het toe 3 046 matrikulante vanuit 101 skole aan die studie deelgeneem. Hierdie skets ʼn breër prentjie van die groot behoeftes van skoolverlaters.

Die vraelys is elektronies op Survey Monkey beskikbaar gestel, en leerders kon dit via hul slimfone invul. Hierdie studie maak gebruik van ʼn gemengdemetode-navorsingsbenadering wat kwantitatiewe en kwalitatiewe data insluit.

Afrikaans as onderrigtaal

Een van die opvallende bevindinge vanuit die verslag is die sterk ondersteuning vir Afrikaans as ʼn onderrigtaal. Ongeveer 73% van die matrikulante voel positief oor Afrikaans as onderrigtaal.

Hierdie ondersteuning vir Afrikaans as onderrigtaal het oor die algemeen sterk na vore gekom in Gauteng en die Wes-Kaap. Dit dui op ʼn sterk houding ten gunste van Afrikaans, selfs onder leerders wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, maar ook ʼn besef van die waarde van Moedertaalonderrig. Die onlangse Wet op Basiese Onderwys (Bela)-wetsontwerp is ʼn direkte bedreiging vir moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Ingevolge dié wysigings sal die staat finale sê hê en word skoolbeheerliggame die reg ontneem om ʼn skool se taal- en toelatingsbeleid te bepaal en toe te pas. Die skoolverlatersverslag dui egter daarop dat leerders nie net verkies om in hul moedertaal te studeer nie, maar ook die waarde daarin sien. Leerders wat studeer in hul moedertaal presteer ook en die Bela-wetsontwerp sal veroorsaak dat leerders nie ʼn keuse van onderrig sal gegun word nie.

Studie in Afrikaans

Bykans 50% van die matrikulante het aangedui dat hulle graag in Afrikaans wil studeer. Slegs 29,24% het verkies om nie in Afrikaans te studeer nie, terwyl 22,31% onseker hieroor was.

Die grootste rede vir die keuse om in Afrikaans te studeer was dat dit vir baie leerders hul huistaal of moedertaal is. Ander redes sluit in dat hulle dit as makliker ten opsigte van begrip en akademie beskou, en dat hulle ʼn passie en trots vir die taal koester.

Solidariteit se 2023 Skoolverlatersverslag bied ʼn insiggewende blik in die denke en planne van Suid-Afrikaanse matrikulante. Die verslag toon ook ʼn aktiewe belangstelling in loopbaankeuses. Solidariteit Jeug, ʼn produk van Solidariteit, gee jong mense toegang tot ʼn reeks video’s oor vakkeuses en hulle hoërskoolpad wat hulle sodoende ondersteun in hulle loopbaankeuses. Die behoefte aan inligting oor befondsing vir hul studie het ook duidelik vanuit die verslag na vore getree. Solidariteit Jeug bied verskeie inligting oor lenings ens. om jou kind te bemagtig om verder te kan studeer. Klik hier om jou kind op Solidariteit Jeug te registreer.

Die verslag dui voorts daarop dat hierdie matrikulante besef dat hulle die uitdagings wat hulle in die afgelope jare ondervind het, kan oorkom deur hard te werk en hul vaardighede te benut. Solidariteit Jeug ondersteun jou kind in al hierdie uitdagings. Lees hier meer. Die toekoms blyk positief en hoopvol te wees vir hierdie generasie matrikulante.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel