Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit se toetrede namens Mettler is baie belangrik
Deur Pieter Jordaan
Op 28 Julie sal die hooggeregshof in Pretoria Solidariteit se dringende aansoek aanhoor om Johann Mettler, stadsbestuurder van die Stad Tshwane, se skorsing tersyde te stel hangende ʼn hersiening van die metro se besluit.
In die saak verteenwoordig Solidariteit eerstens een van sy meer as 200 000 lede en die betrokke lid se strewe om geregtigheid. Tog gaan Johann Mettler se saak oor meer as net dit.
Dit gaan oor die vraag of bekwame, onafhanklike munisipale amptenare, so skaars as wat hulle klaarblyklik in hierdie land van ons mag wees, hul werk kan doen sonder om slagoffers van politieke magstryde te word.
Trouens, die krisis in Suid-Afrika se plaaslike regering is nie bloot een van korrupsie of swak dienslewering nie, maar ook van die verlies aan bekwaamheid.
Die jongste verslag van die ouditeur-generaal toon dat slegs 39 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite skoon oudits behaal het. Nog meer ontstellend is dat nie een van die land se agt metro’s ʼn skoon oudit ontvang het nie. Dit is nie net ʼn finansiële probleem nie, maar ook ʼn bestuurskrisis.
Wanneer professionele administrasie verswak, verswak dienslewering onvermydelik ook.
Tog is dit belangrik om te onthou dat daar, te midde van hierdie regeringsverval, steeds bekwame mense is wat ondanks alles met toewyding en integriteit hul mede-landsburgers dien.
In baie gevalle is hulle die laaste pilare wat dinge staande hou. Sommige van hulle is ook Solidariteit-lede.
Hierdie amptenare is mense wat tussen ernstige uitdagings deur steeds probeer toesien dat openbare fondse verantwoordelik bestuur word, wetgewing nagekom word en politieke besluite wettig en professioneel uitgevoer word.
Daarmee in gedagte vorm die Mettler-saak deel van ʼn ontstellende patroon.
Die hofsaak gaan oor ʼn senior munisipale amptenaar – ʼn stadsbestuurder – wat skynbaar op ʼn onwettige en irrasionele wyse geskors is. Sy teenwoordigheid was oënskynlik ʼn hindernis vir duistere politieke en ander doelwitte.
Solidariteit se hofaansoek vra dat die skorsing en die besluite wat daaruit voortgevloei het, voorlopig opgeskort word hangende ʼn hersiening daarvan. Dit is ons plig om vir lede soos Mettler te veg.
Solidariteit is gretig om die mense te beskerm wat nog bereid is om staatsinstellings op professionele wyse te probeer koers gee, met die nodige kundigheid, ervaring en integriteit.
Indien ons nie daardie beginsel verdedig nie, sal die grootste verloorders nie net die betrokke amptenare wees nie, maar ook die miljoene Suid-Afrikaners wat elke dag op goed funksionerende munisipaliteite aangewese is.