Afrikaans

English

loading
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-staan-gereed-met-gebalde-vuiste-in-2025

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit staan gereed met gebalde vuiste in 2025!

Deur Ané Janse van Rensburg

Solidariteit se stryd vir geregtigheid duur in 2025 voort aan verskeie fronte. Van werksgeleenthede wat teen diskriminerende rassebeleide beskerm word, tot die stryd teen die regering se omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Bela-wet, bewys Solidariteit weereens dat hy onwrikbaar in sy missie is om die regte van sy lede en die Afrikaner-gemeenskap te beskerm.

’n Standpunt teen rassediskriminasie

Een van Solidariteit se grootste veldtogte hierdie jaar fokus op die stryd teen rasseteikens en omgekeerde diskriminasie. Solidariteit se rasseverslag wat diskriminasie en rassevooroordeel in die arbeidsmark blootlê, is saamgeneem na die Verenigde State om internasionale bewusmaking te bevorder. Hierdie verslag stel die regering se beleid wat onregverdig teen minderheidsgroepe diskrimineer, aan die kaak en bevestig dat Solidariteit bereid is om hierdie stryd op ’n globale platform te voer.

Verder het Solidariteit sterk standpunt ingeneem teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se “skaamtelose rasse-ommekeer”. Solidariteit bestempel dié kommissie se voorstelle as ’n regstreekse aanval op regverdigheid, en Solidariteit gaan voort om volgehoue druk toe te pas om te verseker dat meriete en gelyke geleenthede bo rasgedrewe beleid verkies word.

Solidariteit staan ook individue by wat slagoffers van onregverdige rassediskriminasie geword het. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die saak van Alwyn Erasmus teen Eskom. Erasmus, ’n wit man met 30 jaar se ondervinding, is nie vir ’n bestuurspos by Eskom oorweeg nie bloot weens sy velkleur en ten spyte daarvan dat hy die mees geskikte kandidaat was. Solidariteit het hom by die arbeidshof verteenwoordig, en die hof het beslis dat Eskom se rassebeleid Erasmus se regte geskend het en dat Eskom hom 18 maande se salaris as vergoeding moes betaal. Hierdie uitspraak is ’n belangrike oorwinning teen onbuigsame regstellende aksie, en Solidariteit beplan verdere aksies om sulke diskriminasie uit te roei.

’n Struikelblok vir die NGV

Die regering se NGV-plan hou ’n ernstige bedreiging in vir Suid-Afrikaners se reg op kwaliteitgesondheidsorg. Hoewel Solidariteit erken dat sekere kompromieë vir die NGV voorgestel is, het die organisasie dit ook duidelik gestel dat dit steeds nie aanvaarbaar is nie. Die NGV, soos dit tans beplan word, sal gesondheidsorg in Suid-Afrika verswak en dit in ’n burokratiese nagmerrie verander. Solidariteit veg aktief teen hierdie wetgewing deur regsaksies en openbare bewustheid, en is gereed om in die howe op te tree indien die NGV geïmplementeer word.

Solidariteit het reeds in Mei 2024 hofstukke teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingedien, aangesien die NGV finansieel onhaalbaar en onuitvoerbaar is. Ander organisasies soos die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) sluit nou by die stryd aan. Theuns du Buisson, ʼn ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), beklemtoon dat die regering steeds nie die werklike koste of implementeringsplan van die NGV bekend maak nie, wat daarop dui dat die stelsel gedoem is tot mislukking. Solidariteit en Hasa voer aan dat die NGV toegang tot kwaliteitgesondheidsorg sal verminder, en dat dit uiters onverstandig sal wees om ’n funksionele stelsel af te breek ter wille van ’n minder doeltreffende een.

Die geveg teen Bela

Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) is nog ’n ernstige bedreiging vir gemeenskapsgerigte skole, en spesifiek vir Afrikaanse skole. Solidariteit het reeds sterk standpunt teen hierdie wet ingeneem en skole, ouers en gemeenskappe gemobiliseer om hulle teenkanting hierteen te toon. Bela sal skole se regte om hul eie taalbeleid en toelatingsbeleid te bepaal, ernstig aan bande lê. Solidariteit het dit duidelik gemaak dat hierdie stryd nog lank nie verby is nie en dat elke moontlike roete gebruik sal word om hierdie wetgewing te stuit.

Solidariteit wys duidelik dat hierdie organisasie nie terugdeins vir uitdagings nie. Of dit nou in die hof, op internasionale platforms of in parlementêre komitees is, Solidariteit veg met gebalde vuiste vir sy lede en die Afrikaner-gemeenskap. Met ’n volgehoue verbintenis tot geregtigheid en selfstandigheid bly Solidariteit die bastion vir regte en vryhede in ’n landskap waar hierdie beginsels al hoe meer bedreig word.

Skep vandag jou gratis Solidariteitprofiel en raak betrokke by die geveg om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir Suid-Afrika te bou!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel