Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
11 uur gelede
solidariteit-stel-strategiese-vennoot-vir-sal-voor-na-salarisse-weer-agterstallig-raak

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit stel strategiese vennoot vir SAL voorna salarisse wéér agterstallig raak

Solidariteit het vandag beswaar gemaak oor agterstallige salarisbetalings by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en SAL Tegnies, asook die voortslepende geskil oor oortydbetaling en ander toelaes by SAL Tegnies.

Volgens Derek Mans, sektorkoördineerder van die lugvaartsektor by Solidariteit, kan werknemers nie telkens die prys vir die lugredery se finansiële en bestuursprobleme betaal nie.

“Werknemers kom hul verpligtinge teenoor SAL na en behoort dieselfde van hul werkgewer te kan verwag. Mense het huisverbande, huur, skoolgeld en ander finansiële verpligtinge om na te kom. Hulle kan nie elke maand wonder of hul salarisse betyds gaan wees nie,” sê Mans.

Solidariteit meen finansiële of kontantvloeidruk kan nie herhaaldelike salarisvertragings regverdig nie. SAL se bestuur moet verantwoordelikheid aanvaar en duidelikheid gee oor die redes vir die agterstallige betalings en stappe bekendmaak om ʼn herhaling daarvan te voorkom.

Solidariteit is ook bekommerd oor SAL Tegnies se vertolking en toepassing van die diensvoorwaarde-ooreenkoms rakende oortyd en ander toelaes.

“’n Ooreenkoms kan nie selektief vertolk word wanneer werknemers se vergoeding ter sprake is nie.

“Werknemers wat oortyd werk of bykomende pligte verrig, moet volgens die toepaslike ooreenkomste vergoed word. Hulle kan nie hul werk doen en daarna steeds moet baklei vir geld wat hulle toekom nie,” sê Mans.

Solidariteit verwag van SAL Tegnies om verantwoording oor sy berekeninge te doen en enige verkeerde toepassing van die ooreenkoms reg te stel.

Volgens Solidariteit laat die agterstallige salarisse ernstige vrae ontstaan oor SAL se kontantvloei en die vermoë om sy finansiële verpligtinge na te kom.

Die regering het in Augustus 2026 ’n waarborg van R1 miljard beskikbaar gestel om SAL se bedryfskapitaalbehoeftes te ondersteun. Die 2026-mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring verwys ook na verdere staatswaarborge wat met ongebruikte kaartjies en korporatiewe kredietbriewe verband hou.

“Ons kan nie van een finansiële krisis na die volgende beweeg terwyl werknemers telkens maar net weer die gevolge dra nie.

“Die vraag is of SAL oor ’n volhoubare sakemodel, die nodige kommersiële kundigheid en sterk genoeg leierskap beskik om sonder herhaaldelike staatsondersteuning voort te gaan,” sê Mans.

Solidariteit het ʼn regsproses begin wat uiteindelik daartoe gelei het dat SAL in Desember 2019 onder sakeredding geplaas is. Volgens die vakbond behoort die huidige probleme daarom ernstig opgeneem te word.

Solidariteit meen SAL benodig dringend ’n strategiese ekwiteitsvennoot wat nie bloot kapitaal voorsien nie, maar ook kommersiële kundigheid, goeie bestuur en besliste leierskap na die lugredery bring.

“Die antwoord kan nie nóg ’n korttermyn-reddingsboei wees waarna SAL na die staat sal terugkeer wanneer die volgende krisis ontstaan nie. SAL het ’n strategiese vennoot nodig met ’n direkte belang by die lugredery se langtermynsukses,” sê Mans.

Volgens Solidariteit moet só ’n vennootskap SAL se finansiële posisie versterk, bedryfsverrigting verbeter en sekerheid vir werknemers skep.

“Werknemers verdien ’n werkgewer wat sy verpligtinge nakom, ooreenkomste eerbiedig en verantwoordelikheid vir sy besluite aanvaar. SAL het nie nóg ’n tydelike reddingspoging nodig nie. Hy het ’n volhoubare toekoms nodig,” sluit Mans af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel