
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit: Van vakbond tot Netwerk van werk
Deur Nico Strydom
Solidariteit is soveel meer as net ‘n gewone vakbond – dit het omvorm in ‘n netwerk van werk wat die volle loopbaanpad saam met sy lede stap.
Solidariteit is nie soos ander vakbonde oor die wêreld heen wat die veranderingsgety probeer terugdruk nie. Geen ander vakbond lei sy lede op of help om gemeenskappe weer op te bou nie. Solidariteit is gevestig as die middelpunt van ʼn Helpmekaar-beweging wat die omstandighede skep waar Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kan voortbestaan.
“Sedert 1902 was Solidariteit se taak om werk te beskerm. Omstandighede en uitdagings het oor die jare verander maar Solidariteit se kernfokus, naamlik werk, het dieselfde gebly,” het dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Hermann beskryf die netwerk van werk as ‘n revolusionêre konsep wat die wêreld van vakbondwese totaal verander het. “So word ‘n toekoms van werk vir die huidige sowel as toekomstige geslagte geskep.”
R4,5 miljard word in die volgende paar jaar belê om die netwerk van werk volledig op die been te bring.
Solidariteit se netwerk van werk se doel is om die verskillende werksinstellings wat Solidariteit die afgelope 20 jaar gebou het, so aan mekaar te koppel dat Solidariteit die volle loopbaanpad saam met sy lede kan stap. Die verhouding kan op skool begin en tot na aftrede duur. Solidariteit wil dus ondersteuning in die hele werkpyplyn bied.
Solidariteit sluit ʼn omvattende alternatiewe skoolstelsel, ’n beroepskollege, universiteit, studiehulp, ’n jeugbeweging, ’n netwerk van beroepssnetwerke, mentorskappe, werkplasing, beskerming in die werkplek en voortgesette opleiding in.
Solidariteit se netwerk van werk help om openbare skole se arms regop te hou word en private alternatiewe te ontwikkel. Leerders word gehelp om loopbaankeuses te maak, waarna hulle by Akademia en Sol-Tech kan studeer. Daar word ook met loopbaanvoorbereiding en die plasing van mense in werkplekke gehelp. ‘n Netwerk van beroepsnetwerke help jongmense om ’n beroep van hul keuse te betree en bied mentorskappe aan. Die beroepsnetwerke is ook ʼn gemeenskap wat hom daarop toegespits om spesifieke beroepe te beskerm en die waghond te wees wat brandpunte in die beroep met werkbare oplossings takel. Voortgesette opleiding is nog ‘n belangrike deel van die netwerk van werk. Solidariteit beskerm mense in die werkplek en Solidariteit Finansiële Dienste verskaf werkprodukte, soos aftreevoorsiening en mediese sorg.
Om ʼn lid van Solidariteit te wees, beteken om deel te wees van ʼn netwerk van werk wat saam bou aan Suid-Afrika se toekoms. Sluit aan, klik hier.