loading
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-veg-en-wen-sapd-moet-meer-as-r300-000-aan-polisieman-uitbetaal

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit veg en wen! SAPD moet meer as R300 000 aan polisieman uitbetaal

In die soveelste Solidariteit-oorwinning die afgelope paar maande in ʼn saak waarby die SAPD betrek word, is ʼn arbitrasietoekenning van meer as R300 000 aan ʼn lid van die SAPD bekom nadat hy oor die hoof gesien is vir bevordering.


Deur Heléne Mocke

Kapt. Trevor Senekal is al sedert 1994 ʼn lojale lid van die SAPD en het ná meer as 20 jaar se diens vir ʼn bevordering tot die rang van luitenant-kolonel by die Kriminele Rekordsentrum in Potchefstroom aansoek gedoen. Hy het aan al die minimum vereistes vir die pos voldoen, en het ook oor die nodige kwalifikasies en ervaring beskik om vir die rang in aanmerking te kom. Tog het SAPD hom glad nie vir ʼn onderhoud oorweeg nie – dit terwyl ander kandidate met minder ervaring wél die kortlys gehaal het.

Solidariteit het besluit om dié onreg te takel en het ʼn saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Ná afloop van ʼn ondersoek het kommissaris Geraldine Masunungure beslis die SAPD se optrede was onbillik en onregverdig.

Die SAPD het as rede vir kapt. Senekal se uitsluiting aangevoer dat hulle reeds genoeg kandidate op die kortlys gehad het en dat kapt. Senekal derhalwe uitgesluit is.

“Dit berus egter nie by die paneel om te besluit hoeveel kandidate op die kortlys hoort nie. Onder die vier kandidate op die uiteindelike kortlys was daar persone wat nie eens aan die vereistes van die pos voldoen het nie,” sê Hannes de Kock, litigant wat die saak namens kapt. Senekal hanteer het.

Die voorsitter van die onderhoudspaneel het ook ʼn persoonlike verhouding met die suksesvolle kandidaat gehad wat ʼn duidelike botsing van belange was.

Danksy Solidariteit se aandrang op geregtigheid vir sy lid, het die KVBA beslis dat die SAPD sewe maande se salaris as vergoeding aan kapt. Senekal uitbetaal. Dit beloop R303 515,10 en die SAPD moet hierdie bedrag betaal.

Hierdie saak beklemtoon weer hoe werknemers wat onregverdige behandeling in die werkplek ontvang dit met die nodige hulp kán betwis.

As jy voel jy word onbillik behandel, weet dat Solidariteit daar is vir jou! Ons is hier om seker te maak dat geregtigheid en billikheid seëvier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel