![solidariteit-vereer-topstudente-bysol-tech-promoveringsplegtigheid](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-image-post-1.jpeg)
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vereer topstudente by Sol-Tech-promoveringsplegtigheid
Het jy geweet 94,7% van Sol-Tech se afgestudeerde studente kry binne die eerste ses maande ʼn vaste werk? Solidariteit het Sol-Tech se eerste promoveringsgeleentheid vir 2025 bygewoon waar studente wat hul opleiding suksesvol voltooi het, by hierdie spoggeleentheid vir hul harde werk vereer is. Lees meer oor hierdie geleentheid en wie die topstudente in hierdie groep was.
Deur Kyla-Ann du Toit
94,7% van Sol-Tech se afgestudeerde studente kry binne die eerste ses maande ʼn vaste werk – ʼn bewys van die indiensneembare toekoms wat vir elke Sol-Tech-student voorlê. Op 6 Februarie het Solidariteit die eer gehad om die eerste promoveringsgeleentheid van 2025 by die Sol-Tech-kampus by te woon, waar studente vir hul harde werk en toewyding vereer is.
Die Sol-Tech-promoveringsplegtigheid is ʼn unieke tradisie wat sedert 2022 by Sol-Tech ingestel is. Hierdie prestige-geleentheid gee erkenning aan studente wat hul teoretiese en praktiese opleiding suksesvol voltooi het en vier hul promovering tot die werkplek. Dit vind eenmalig plaas voordat die studente uitgeplaas word om hul werkplekkomponent by die werkgewer te voltooi.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was die gasspreker by die promoveringsgeleentheid. “Werk! Werk! Lekker werk! Arbeid adel, werk maak sterk.” Dit is die woorde van ʼn ou kinderliedjie waarmee hy sy toespraak begin het. “As jy hier uitgaan – jy word nou gepromoveer; jy word geplaas; jy gaan werk êrens – kan jy met vreugde hard werk,” sê dr. Hermann.
“Julle gaan nou die werkplek binne, en daar in die werkplek moet julle weet: werk is groot, werk is skoon, dis mooi, dis besonders – dis harde werk, dis sweetwerk, dis moeilike werk – maar dis koninkrykwerk, dis ewigheidswerk.” Hy het die studente sterkte toegewens vir hulle loopbane wat voorlê en het betuig hoe trots almal op hulle is.
Die volgende agt studente is as die topstudente in hul onderskeie spesialiteitsrigtings aangewys:
- • Gereedskapmaker: Zandre van der Merwe en Hanrich Kotze
- • Pas-en-draai: Dian Giezing
- • Diesel: Annabel Botha
- • Outo-elektries: George Stanley van Lemp
- • Elektries: Tiaan Botha
- • Meulmaker: Johann Michael Dorfling
- • Megatronika: Gulio Franco van Deventer
“Skielik kom julle tyd by ons tot ʼn einde. Mag jy die waardes wat jy by ons geleer het, toepas in die roeping wat vir jou voorlê, en mag julle altyd die woorde onthou van ons Sol-Tech-roepstem: In Sy almag is geloof my krag. Môre begin vandag,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. “Ons is baie trots op elkeen van julle, en ek wil vir elkeen van julle persoonlik dankie sê!”
ʼn Gevoel van trots het by dié geleentheid geheers. “Ons wil elke student gelukwens en sterkte toewens met hul toekoms,” sê Megan Meyer, studente-organiseerder by Solidariteit. Solidariteit het elke toppresteerder met ʼn kontantprys ter waarde van R2 000 beloon om hulle geluk te wens met hul prestasies en harde werk. “Hierdie pryse beklemtoon die belangrike werk wat ambagspersone doen en die prestige wat met hierdie ambagte gepaard gaan,” sê Meyer.
Danksy ʼn Jongwerkende-lidmaatskap kan jy jou loopbaandoelwitte met selfvertroue nastreef. Die Solidariteit Ambagnetwerk staan gereed om jou as ambagspersoon by hulle beroepstuiste te verwelkom en te verseker dat jy vir jouself ʼn toekoms bou waar jy vry, veilig en voorspoedig kan leef en werk.
Solidariteit is trots daarop om deel van hierdie promoveringsgeleentheid te kon wees en is opgewonde om te sien wat elkeen van hierdie studente in hul loopbane gaan vermag. Ons wil graag die volle loopbaanpad saam met jou stap – sluit vandag nog by Solidariteit aan en wees onmisbaar in jou beroep!