loading
Artikels
3 maande gelede
wat-is-die-nuwe-onteieningswet-en-hoekom-ons-moet-waaksaam-wees

Foto Krediet: Verskaf

Wat is die nuwe Onteieningswet en hoekom ons moet waaksaam wees

Die Onteieningswet stel die regering in staat om grond en ander eiendomme te onteien, in sommige gevalle ook teen geen vergoeding nie, indien dit in die openbare belang is. Dié wet is ten spyte van hewige teenkanting onderteken en uit talle oorde gekritiseer, met talle organisasies en instellings wat reeds aangedui het dat hulle dit in die hof sal betwis. Klik hier vir meer inligting.


Deur Nico Strydom

Pres. Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet het tot kommer, baie vrae en ook groot teenstand gelei.

Die Onteieningswet stel die regering in staat om grond en ander eiendomme te onteien, in sommige gevalle ook teen geen vergoeding nie, indien dit in die openbare belang is. Dié wet is ten spyte van hewige teenkanting onderteken en uit talle oorde gekritiseer, met talle organisasies en instellings wat reeds aangedui het dat hulle dit in die hof sal betwis.

Wat beteken ‘nul-vergoeding’?

Die nuwe wet vervang die oorspronklike wet van 1975 en skep riglyne vir wanneer en hoe die staat mag onteien, asook hoe vergoeding bepaal sal word. Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die insluiting van “nul vergoeding” in die nuwe Onteieningswet tereg tot onsekerheid en talle vrae gelei.

“Die ANC verkoop hierdie bepaling as ‘sonder-vergoeding’, maar die wet het baie riglyne oor hoe daar by ‘nul’ uitgekom word. Daar is ’n lys van omstandighede waarin nul vergoeding as moontlik billik en regverdig geag mag word.

“As voorbeeld: ’n Munisipaliteit kan sê ons wil ’n nuwe pad bou en jou huis is in die pad. Hulle sê dan jou huis is R1 miljoen werd, maar jy skuld R1,5 miljoen in munisipale tariewe – dan, as die munisipaliteit opdaag, sê hulle ons bied jou nul rand aan, want ons vat die R1 miljoen wat ons jou sou betaal en trek die R1,5 miljoen daarvan af.” 

Mulder sê hoewel die insluiting van nul vergoeding kommerwekkend is, is dit nie ’n wysiging van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.

“Die nuwe Onteieningswet sit nul vergoeding aan die einde van die som, en die regering sal moeite moet doen om te wys hoekom dit nul moet wees. Die Grondwet sê egter steeds vergoeding vir onteiening moet regverdig en billik wees – die regering gaan dus moet wys hoekom nul in ʼn bepaalde geval regverdig en billik is.”

‘ANC kan nie vertrou word nie’

Die wyse waarop Ramaphosa die ondertekening van die wet aangekondig het, sonder die wete van sy vennote in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) en sonder die wete van die DA-minister van openbare werke en infrastruktuur, is kommerwekkend en benadruk net verder dat daar nie vertroue in die regering, en spesifiek die ANC, kan wees nie.

“Die ANC kan nie vertrou word nie, en daarom is Solidariteit bereid om tot R1 miljoen by te dra tot regskostes indien die staat die nuwe Onteieningswet gebruik om enige boer (of ander privaat eienaar) sonder vergoeding te onteien,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Hulle gaan dit nie regkry nie, en ons sal help om dit te keer. Hulle moenie eers daaraan dink nie. Ons sal ook pogings, soos deur AfriForum, ondersteun om die wet in die hof uit te daag. Die kernprobleem met die nuwe Onteieningswet is ’n korrupte ANC wat nie vertrou kan word nie. Ons weet dat die ANC eintlik die Grondwet wil verander, al is dit nie in hierdie geval aan die orde nie.

“Hulle wil dus nóg meer hê as wat die nuwe wet voorsien. Ons het gesien hoe hard hulle daarvoor geveg het in die parlementêre portefeuljekomitee. Dit is egter gestop. Dit is waarom die EFF en MKP ook kwaad is oor die nuwe wet. Hulle voel dat die werklike onteieningsmeganisme in die verandering van die Grondwet lê. Ons moet steeds wawyd wakker wees daarvoor.”

Onteiening en die RNE

Die DA het ʼn amptelike dispuut binne die RNE verklaar nadat Ramaphosa die Onteieningswet onderteken het. Die DA-leier, John Steenhuisen, het ʼn brief aan Ramaphosa gestuur om onder meer ten sterkste kapsie te maak teen die ondertekening van die Onteieningswet, ten spyte van ʼn duidelike regsmening dat die wet ongrondwetlik is.

Daar word in die brief ook melding gemaak van die gebrek om behoorlike meganismes daar te stel om dispute binne die RNE op te los en die misbruik van die RNE se geskiloplossingsmeganisme. Die DA het ook sy teenkanting teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die brief benadruk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel