loading
Artikels
3 weke gelede
solidariteit-veroordeel-skorsing-van-hoof-en-adjunkhoof-van-pretoriase-skool

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit veroordeel skorsing van hoof én adjunkhoof van Pretoriase skool

Deur Heléne Mocke

Solidariteit sal nie duld dat die hoof en nou die adjunkhoof óók van die Pretoria High School for Girls deur die Gautengse Onderwysdepartement (GDO) geboelie word nie.

Die GDO het die verwydering van Doret Schoombie, adjunkhoof van Pretoria High School for Girls, vandag bevestig. Dit volg drie weke nadat die skoolhoof, Phillipa Erasmus, haar pos óók tydelik kwyt is weens bewerings van ʼn “kultuur van rassisme” by die skool.

Die GDO sê hierdie stappe is deel van sy onafhanklike ondersoeke na die beweerde klagte van rassisme.

Solidariteit sê egter die departement oorskry sy magte deur ʼn onafhanklike ondersoek oor rassisme te loods nadat die skool se beheerliggaam reeds ʼn ondersoek oor die insident van stapel gestuur het.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê hoewel die departement altyd ʼn rol in die onderwys sal speel, het hulle in hierdie geval hul regte oorskry.

“Die skool se beheerliggaam het reeds op ʼn regmatige wyse opgetree en die ondersoek behoorlik afgehandel,” sê Van der Bijl.

“Verdere ondersoeke deur die GDO moet bloot gesien word as politiekery waar die GDO eenvoudig die skool boelie om iets te doen wat nie wettig is nie. Dit is hartseer dat die skoolgemeenskap en die beheerliggaam nie opstaan teen sulke magsvergrype nie,” sê hy.

Die GDO is besig om die rassekaart te speel en goeie onderwysers en bestuur se toekoms ly daaronder.

Politieke agendas moenie die werklike doelwitte van onderwys ondermyn nie. Volgens Van der Bijl is dit noodsaaklik om balans en oordeelkundigheid te handhaaf wanneer daar met sensitiewe kwessies soos rassisme gewerk word, ten einde ʼn regverdige en veilige skoolomgewing te bevorder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel