Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit verwelkom Agoa-verlenging tot 2028
Solidariteit verwelkom gisteraand se ondertekening van ʼn verlengingswet deur die Amerikaanse president Donald Trump in die Withuis, wat ook die verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) tot 31 Desember 2028 meebring.
Hierdie verlenging bied noodsaaklike ekonomiese sekerheid aan bedrywe regoor Sub-Sahara-Afrika.
Solidariteit neem egter met kommer kennis van die voortgesette debat in Washington oor Suid-Afrika se toekomstige kwalifisering vir Agoa. Suid-Afrika se uitsluiting sal ʼn verwoestende uitwerking hê op belangrike plaaslike bedrywe, veral die motor- en landbousektor, en sal duisende gespesialiseerde poste in gevaar stel.
Solidariteit doen daarom ʼn sterk beroep op die Withuis om Suid-Afrika op die lys van kwalifiserende lande te behou. Solidariteit het reeds maande gelede ʼn doelgerigte veldtog van stapel gestuur om Suid-Afrika se voortgesette insluiting by Agoa te bevorder.
“Ons veldtog het tot dusver op direkte skakeling gefokus. Dit sluit besoeke aan die Withuis en die Amerikaanse kongres in, asook die voorlegging van omvattende ekonomiese impakstudies wat die wedersydse voordele van bilaterale handel en Agoa in die besonder uitlig.
“Ons gaan hierdie pogings in die komende dae en weke verskerp terwyl die Withuis die lys van kwalifiserende lande vir 2027 finaliseer,” sê Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit.
Solidariteit het die afgelope jaar ook wanpersepsies oor Suid-Afrika se beleggingsklimaat in Washington aangespreek en die verbintenis van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag tot internasionale handelstandaarde beklemtoon.
“Ons glo konstruktiewe skakeling, eerder as uitsluiting, is die enigste manier om poste te beskerm en ekonomiese groei te bevorder.”