![solidariteit-verwelkom-diplomatieke-druk-maar-oplossing-moet-intern-gevind-word](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/DirkTrump-FI.png)
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit verwelkom diplomatieke druk, maar oplossing moet intern gevind word
Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, gaan op dringende basis ‘n gesprek met president Ramaphosa aanvra en na die VSA reis vir gesprekke met verteenwoordigers van die Withuis. Lees Solidariteit se terugvoer hieronder.
Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, gaan op dringende basis ‘n gesprek met president Ramaphosa aanvra en na die VSA reis vir gesprekke met verteenwoordigers van die Withuis.
Dit volg op president Donald Trump se uitvoerende bevel rakende Suid-Afrika se buitelandse beleid, onteiening, rasgebaseerde beleid en die repatriasie van Afrikaners. Ons was nie bewus daarvan dat mnr. Trump hierdie bevel sou uitreik nie.
Die ANC het oor jare ‘n roekelose binnelandse en buitelandse beleid gevolg, wat daartoe gelei het dat hulle die wêreld se grootste ekonomie en een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote vervreem het.
Die G20-beraad het internasionale aandag op Suid-Afrika gevestig, en dit sal deur die res van die jaar voortduur. Indien die ANC as voorsitter van die G20-beraad ‘n globale rolspeler wil wees, moet sy internasionale en binnelandse beleid hiermee strook. Dit beteken onder meer dat die ANC nie die grondwetlike skikking mag verbreek deur Afrikaanse skole en moedertaalonderrig deur wetgewing te probeer afskaal nie.
Die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit en AfriForum, verteenwoordig sowat 600 000 Afrikaner-gesinne en 2 miljoen individue. Ons boodskap aan presidente Ramaphosa en Trump is dat ons probleme in Suid-Afrika self wil oplos. Ons is bereid om eerlike gesprekke met beide partye te voer oor die stand van die land en ons gemeenskap en onderneem om feite korrek en verantwoordelik oor te dra, soos ons nog altyd gedoen het.
Die VSA moet Suid-Afrikaners die geleentheid gee om ons eie uitdagings te hanteer. Die Solidariteit Beweging bly verbind tot gesprek en beskikbaar vir samewerking. Ons verwelkom die politieke druk wat die VSA op die ANC plaas, maar sal standpunt inneem teen die onttrekking van hulp. Ons ondersteun Suid-Afrika se voortgesette deelname aan AGOA, wat duisende boere en werknemers se lewensbestaan verseker.
Gewone Suid-Afrikaners moet nie die prys betaal vir diplomatieke geskille en die ANC se roekelose beleid nie. Die onttrekking van hulp kan ernstige maatskaplike gevolge en verhoogde werkloosheid tot gevolg hê. Enige hulp moet egter deeglik geëvalueer word.
Die oplossing is dat internasionale hulp aan Suid-Afrika moet voortgaan, terwyl Afrikaners praktiese ondersteuning ontvang in hul strewe na kulturele outonomie.
Afrikaners is verbind tot Suid-Afrika en die vasteland. Ons verskil met die ANC, maar is lief vir ons land. Soos in enige gemeenskap is daar individue wat wil emigreer, maar repatriasie van Afrikaners as vlugtelinge is nie vir ons ‘n oplossing nie. Ons wil ‘n toekoms in Suid-Afrika bou en het minimum bestaansvoorwaardes wat ons sal stel en voor sal werk.
Indien die internasionale gemeenskap ons help om ‘n omgewing te skep waarin Afrikaners volhoubaar in Suid-Afrika kan bly, kan ons ‘n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense lewer.
Ons lojaliteit aan die land is net so onwrikbaar as ons regmatige strewe na kulturele vryheid en die afskaffing van rassediskriminasie teen ons. Hierdie verbintenis tot ons land en kulturele vryheid is vervat in die Afrikaner-verklaring, wat verlede jaar saam met gemeenskapsleiers onderteken en bekendgestel is.
Die Solidariteit Beweging, spesifiek Solidariteit en AfriForum, sal onmiddellik begin om voorstelle te ontwikkel vir die oplossing van dispute oor onteiening en rasgebaseerde beleid. Verdere inligting sal binnekort bekend gemaak word.
Die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit hou vanmiddag, 13:00 by AfriForum se hoofkantoor, ’n mediakonferensie oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se uitvoerende bevel rakende die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika, asook oor befondsing aan Suid-Afrika.