
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vier die onmisbare rol van kantoorpraktisyns by netwerkgeleentheid
Deur Kyla-Ann du Toit
Daar was pizza en wyn. Daar was gelag. Daar was handdrukke tussen nuwe vriende. Op 12 Junie 2025 het ʼn groep dinamiese kantoorpraktisyns by Sowel As-koffiehuis in Centurion bymekaargekom vir ʼn aand van bederf, maar ook vir iets veel dieper: ʼn herinnering aan hul waarde, hul stem en hul potensiaal.
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk wil kantoorpraktisyns graag bemagtig om hul volle potensiaal te bereik en vanaand se netwerkgeleentheid is juis een van die vele maniere wat dié beroepsnetwerk dit probeer doen.

ʼn Netwerk wat saamstaan
Volgens Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk, was die doel van die aand nie net samesyn en netwerk nie, maar ook erkenning.
“Netwerkgeleenthede vir kantoorpraktisyns is só belangrik omdat hulle gewoonlik alleen werk. Dit gee vir kantoorpraktisyns die geleentheid om bymekaar te klankbord, te leer en net met mekaar te gesels,” sê sy.
Kantoorpraktisyns wat hierdie geleentheid bygewoon het, het die kans gekry om hul professionele netwerk uit te brei, met mekaar te gesels oor die uitdagings en vreugdes van hul daaglikse werk, en by mekaar te leer deur eenvoudige, opregte gesprekke.
ʼn Gasspreker met ʼn inspirerende loopbaanstorie
Esna Colyn, die gasspreker vir die aand, het die gehoor diep geraak met haar storie van leierskap, geloof en roeping. As voormalige uitvoerende hoof van i-BLOOM Beauty en huidige hoof van Starway Academy, het sy haar reis met eerlikheid en wysheid gedeel.
“Ek is baie opgewonde om vanaand by hierdie baie spesiale geleentheid te kon wees en om my lewensverhaal te kon deel,” sê Esna. “Wat ʼn wonderlike geleentheid om te kan netwerk, mekaar beter te kan leer ken en dat ons werklik ʼn verskil kan maak.”

Esna se fokus op vroue in die sakewêreld, geloofsgebaseerde roeping en mentorskapprogramme het bywoners van die geleentheid laat nadink oor hul eie loopbane en doelwitte. Haar boodskap het getuig van ʼn lewe wat nie net op prestasie gebou is nie, maar ook op betekenis.
Lees hier meer oor Esna se loopbaanstorie.
Meer as net nóg ʼn geleentheid
Vir die kantoorpraktisyns wat dié spesiale aand bygewoon het, was dit veel meer as ʼn netwerkgeleentheid. Dit was ʼn geleentheid om opnuut herinner te word aan hul plek in die groter prentjie van organisasies en gemeenskappe – en natuurlik om hul waarde in die werkplek te besef.
“Kantoorpraktisyns is dikwels die mense wat agter die skerms werk en wat die balle aan die rol hou,” sê Mari. “Daarom is dit vir Solidariteit só belangrik om die nodige erkenning aan kantoorpraktisyns te gee en hulle te vereer vir die werk wat hulle doen.”
Die aand is afgesluit met heerlike kos, drankies, nagereg en heerlike geselskap. Elke kantoorpraktisyn wat die geleentheid bygewoon het, het ook ʼn geskenkpakkie van Esna ontvang. Die aand was werklik gevul met baie lesse, netwerkbou en nuwe vriendskappe.

ʼn Toekoms van groei en gemeenskap
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk bly daartoe verbind om die loopbane en welstand van kantoorpraktisyns te ondersteun. Geleenthede soos hierdie is slegs een van vele maniere waarop dié beroepsnetwerk dit doen.
Sluit vandag nog by die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk aan en bly op hoogte van toekomstige netwerkgeleenthede. Word deel van jóú beroepsgemeenskap!