
Foto Krediet: OkayDeer | Mari Ferreira, Solidariteit-netwerkorganiseerder
Gekopieër
Toe sê hy: ‘Ons ontvangsdame het bedank.’
Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk
Ek is mal oor my werk! Ek reis na dorpe waar die horlosies stadiger tik en mense jou met hul oë groet nog voor hul mond iets sê. Ek ontmoet mense wat jou inspireer sonder om eers te probeer, en ek hoor stories wat by jou bly, lank nadat jy die plek verlaat het.
Een koue wintersoggend, toe die son nog traag oor Rustenburg se horison gehang het, het my pad my na ʼn skool gelei waar ek en ʼn kollega ʼn afspraak met die adjunkhoof gehad het. Maar voordat ons enigsins ons voete in dié groot gebou kon vind, het ons háár raakgeloop – die ontvangsdame.
Maar wag, moet haar asseblief nie nét ʼn ontvangsdame noem nie. Nee. Sy is ʼn dirigent van ʼn daaglikse simfonie. Sy is ʼn meester van multitasking, ʼn gids vir die verdwaaldes, ʼn rustige teenwoordigheid te midde van chaos en dringendheid. Sy antwoord die telefoon, verwelkom besoekers, help ʼn leerder wat haar tas vergeet het, glimlag vir ʼn gespanne ouer, alles in dieselfde asem. En sy doen dit met grasie.
Ek en my kollega het soos twee verdwaalde toeriste gestaan, onseker oor waarheen om te gaan. Sonder om haar pas te breek, het sy ons gehelp, ons die pad gewys, selfs ʼn ent saam gestap, en met soveel warmte gepraat dat ons soos ou vriende gevoel het wat weer kom kuier het. In haar teenwoordigheid het selfs die koue wind sagter begin waai. Sy is die hartklop van die voorportaal – die eerste indruk wat nie vergeet word nie.
Later, toe ons saam met die adjunkhoof uitstap na ons motor, het ek teruggekyk na haar toonbank. Daar was sy: een hand op die foon, die ander hand in die lug vir ʼn vriendelike groet. En toe, terwyl ons nog glimlag oor haar warmte, sê hy dit …
“Ons ontvangsdame het bedank.”
Ek en my kollega het na hom gekyk, half geskok, half hartseer. Dit het gevoel asof iemand vir ons gesê het dat ʼn bekende baken in die dorp nie meer daar is nie. Ons het haar skaars ontmoet, en tog het dit gevoel asof ons haar al jare ken. Só sterk was haar teenwoordigheid. Só diep haar impak.
Hy knik en verstaan ons verstomming. “Ek weet,” sê hy stil. “Ek is nie seker hoe ons sonder haar gaan klaarkom nie.”
En toe tref dit my weer eens. Die kantoorpraktisyn – daardie anker van ʼn instelling – is onmisbaar. Hulle is nie net mense wat afsprake reël en oproepe hanteer nie. Hulle is verbindings. Hulle hou die wiele aan die rol. Hulle onthou name, gesigte en stories. Hulle bring warmte in koue winters, rigting vir dié wat nie weet waarheen nie, en vrede aan dié wat haastig opdaag.
As deel van die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk weet ek: hierdie storie is nie uniek nie. Julle, ons kantoorpraktisyns, doen dit elke dag. Stil-stil. Soms onsigbaar. Maar onvervangbaar. Julle is die rede waarom mense welkom en tuis voel. Julle is die energie agter georganiseerde chaos. Julle gee betekenis aan die woord teenwoordigheid.
So, wat doen ons sonder julle?
Wie sal die kalmte bring as die dag mal raak? Wie sal weet waar elke lêer, elke mens, elke afspraak hoort? Wie sal daardie warm glimlag gee, daardie vriendelike “Kan ek help?” wat alles beter maak?
Kantoorpraktisyns, ons sien julle raak
Ons waardeer julle.
En danksy Solidariteit se netwerk is julle nie alleen nie – julle is deel van ʼn gemeenskap van raakvatters wat saamstaan, saam leer, en saam groei.
Mag julle altyd weet: Julle werk is nie net administrasie nie. Julle werk is verandering.