
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit vier ʼn jaar van die Studentelewegroep
Deur Kyla-Ann du Toit
“Wat ʼn jaar! Ons het nie net planne gemaak nie – ons het dinge gedoen wat saak maak.” Só sê Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, oor die Studentelewegroep se eerste verjaarsdag!
Solidariteit het in 2024 die Studentelewegroep, ʼn aanlyn gemeenskap spesifiek vir jong mense tussen 18 en 25 wat meer uit hul studentelewe wil kry, bekendgestel. Vandag vier dié groep nie net sy eerste bestaansjaar nie, maar ook ʼn jaar van groei, ondersteuning en ʼn waardevolle impak in studente se lewens.
Wat is die Studentelewegroep?
Hierdie groep dien as ʼn aanlyn tuiste waar studente in hul moedertaal toegang kry tot gratis hulpmiddels, ondersteuning, inspirasie en geleenthede om hul stem te vind, hul studies te bemeester en voor te berei vir die werkplek.
“Van groot oomblikke tot klein oorwinnings – ons het saam met studente gegroei, hulle ondersteun en regtig ʼn verskil gemaak,” sê Burger. “Dié groep is ʼn spasie wat ʼn waardevolle hulpmiddel en gemeenskap is vir jong mense wat op soek is na rigting, ondersteuning en inspirasie. Vir Solidariteit is dit belangrik om studente van dag een af met die regte netwerk en kennis te bemagtig – en hierdie groep is net die begin van iets nóg groter.”
Hoekom is hierdie groep vir studente belangrik?
Elke student weet dat dit nie altyd maklik is om te studeer nie. Dit is stresvol, duur en soms eensaam. Die universiteitslewe gaan oor meer as net klasdraf en eksamen – dit is die begin van jou pad na volwassenheid en ʼn suksesvolle loopbaan. Solidariteit se Studentelewegroep bied jou ʼn unieke, gemeenskap waar jy ondersteuning, mentorskap en netwerkgeleenthede kry om jou volle potensiaal te bereik – alles in Afrikaans!
Die Studentelewegroep gee studente toegang tot onder meer die volgende waardevolle ondersteuning:
• ✅ Hulp om #JouStudiete bemeester (soos ʼn eksamenbeplanner en ʼn belangstellingsbepaler)
• ✅ Toegang tot hulpbronne vir #JouWerk ná universiteit en mentorskapprogramme
• ✅ Ondersteuning en hulp met CV’s en voorbereiding vir onderhoude
• ✅ ʼn Platform om #JouStem te vind
• ✅ ʼn Gemeenskap en netwerkgeleenthede
En dit is alles toeganklik vir enige student wat ʼn gratis profiel op Solidariteit geregistreer het.
ʼn Jaar van stories en sukses
Of jy nou die Student tot Meester-geleentheid bygewoon het, jou eksamen met vlieënde vaandels geslaag het danksy studiehulpbronne of inspirasie deur ander studente se stories gekry het – jy was hierdie afgelope jare deel van iets groot: ʼn beweging!
“Die Studentelewegroep het in sy eerste bestaansjaar geweldige groei getoon, en só ook die inhoud daarop,” sê Chereé Meyer, organiseerder by Solidariteit se Studente-aanbod. “Die begin was klein, maar daar is nou ʼn volledige aanbod vir werkplekgereedheid beskikbaar wat elke vraag wat studente moontlik oor die werksoekproses mag hê maklik en eenvoudig in Afrikaans kan beantwoord. Dit is lekker om te weet dat hierdie groep studente help om werk te kry en om hul toekoms te bou.”
Wat lê voor?
Dit is maar net die begin! In die volgende jaar wil Solidariteit nóg meer vir studente doen: meer hulpbronne beskikbaar stel, die mentorskapprogramme uitbrei en verbeter, en meer geleenthede vir studente soos jý skep!
Vier en bou saam met ons! Skep jou gratis profiel op www.solidariteit.co.zaindien jy nog nie het nie en skakel by jóú aanlyn studietuiste aan.
ʼn Suksesvolle studentelewe wag op jou!