loading
Artikels
1 jaar gelede
solidariteit-vier-sekretaressedag

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit vier Sekretaressedag

Deur Heléne Leonard

Op 6 September het Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk Sekretaressedag gevier. Hierdie dag is gewy aan al die ongelooflike persone wat agter die skerms werk om elkeen se werklewens naatloos te laat verloop. Die dag is bygewoon deur sekretaresses, administratiewe assistente en ander ondersteuningspersoneel wat die ongesiene helde van die moderne werkplek is. “Sonder hulle sou die balle uit die lug val en dit is hoekom Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk op hierdie dag besluit het om hul waardering vir hierdie onmisbare individue te toon,” het Bianca Smit, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk gesê.

Solidariteit se netwerksentrums insluitend Boksburg, Bellville, Centurion en Nelspruit het op 6 September byeengekom om Sekretaressedag te vier. Ongeveer 230 mense het saam met Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk Sekretaressedag gevier. Hierdie dag is ʼn spesiale herinnering aan die belangrike rol wat sekretaresses en administratiewe personeel in die vlot funksionering van ons werkplekke speel. Die geleentheid was ʼn viering van hul toewyding, vernuf en die beduidende bydrae wat hulle maak tot die sukses van enige organisasie.

Een van die hoogtepunte van die dag was die toesprake wat deur inspirerende individue, Zelda Vermeulen, ʼn pastorale berader, en Madaleen van der Berg, Attooh se finansiële kenner, Francois Boyce van Hoezit Samelewing, Lindie Strydom en Debbie Laubscher van iSimplifi, Annelize Engelbrecht, van Doxa Deo, gelewer is. Hulle het van die geleentheid gebruik gemaak om die gehoor bewus te maak van die uitsonderlike werk wat deur sekretaresses gedoen word en hulle bedank vir hul onverpoosde toewyding om ondersteuning in die werkplek te bied. Hierdie toesprake het nie net hulle waardering duidelik gemaak nie, maar dit het ook ʼn dieper besef geskep oor die kritieke rol wat sekretaresses in ons alledaagse werksaamhede vervul.

Marike Burger, Solidariteit Jongwerkende Koördineerder, Marisa Engelbrecht, spesialis, Francois Boyce van Hoezit Samelewing en Bianca Smit, netwerkkoördineerder.

Die viering van Sekretaressedag by Solidariteit se netwerksentrums het ʼn belangrike boodskap uitgestuur. “Die werk van sekretaresses en administratiewe assistente moenie in die skaduwee bly nie. Hulle is die stille kragte wat agter die sukses van enige organisasie staan, en hulle verdien erkenning en lof vir hul harde werk en toewyding,” het Smit, verder gesê.

Hierdie funksie het ook die geleentheid gebied vir netwerklede en ander ondersteuningspersoneel om saam te kom, ervarings en kennis te deel en ʼn gevoel van gemeenskap en samewerking te bevorder. Solidariteit wy homself daaraan toe om ʼn Netwerk van Werk vir mense in verskeie beroepe te stig sodat hulle mekaar kan help, bymekaar kan leer en sodoende meesters in hul onderskeie beroepe kan word. Lees meer hier oor die aanlyn wêreld van werk wat Solidariteit beskikbaarstel vir diegene wat wil werk en ook goed wil werk.

Zelda Vermeulen, spreker by Centurion op Sekretaressedag.

Solidariteit besef dat sekretaresses nie net individuele bydraes lewer nie, maar dat hulle deel is van ʼn breër gemeenskap van professionele praktisyns wat saamwerk om die werkplek te versterk. Lees hier meer oor hoekom jy ook aan die Kantoorpraktisynsnetwerk moet behoort.

“In ʼn wêreld waar tegnologie dikwels in die kollig staan, moet ons nie vergeet om die mense agter die skerms te erken wat ons daagliks ondersteun nie,” vertel Smit verder.

Sekretaresses en administratiewe personeel is die stille helde en heldinne wat die werk se balle in die lug hou, en dit is op hierdie spesiale dag dat ons hul bydrae vier en ons dankbaarheid betuig. Hulle is die ruggraat van die werkplek en sonder hulle sou ons nie so vlot funksioneer nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel