Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
solidariteit-vra-dat-vsa-en-sa-regerings-geskil-na-g20-oplos

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit vra dat VSA- en SA-regerings geskil ná G20 oplos

Die vooruitsigte van gewone Suid-Afrikaners ly onder die geskil tussen die regerings van president Donald Trump van die Verenigde State van Amerika en president Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika.

Daarom het Solidariteit vandag, op die vooraand van die G20-beraad in Johannesburg, gevra dat die regerings ná afloop van die G20-beraad ernstig moet werk om die geskil tussen die twee lande op te los. 

Die Amerikaanse boikot van die G20-beraad het reeds ’n ernstige demper op die beraad geplaas, omdat dit waarskynlik ook bygedra het tot die besluit van staatshoofde van lande soos China, Argentinië en Indonesië om weg te bly en eerder iemand anders uit hul regerings na die beraad te stuur.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, is die aanbied van ’n beraad soos dié ’n groot geleentheid vir enige land en, hoewel die naweek se beraad steeds ryk aan geleenthede vir Suid-Afrika is, hou dit ook ’n verspeelde kans in. 

“Met ses van die 20 staatshoofde van G20-lidlande wat nie teenwoordig gaan wees nie, is daar sonder twyfel ’n demper op die beraad geplaas. Sedert die eerste leiersberaad in 2008 het nog nooit soveel staatshoofde nie self die beraad bygewoon nie. Dit is jammer en skep die persepsie in baie lande dat Suid-Afrika se geopolitieke invloed besig is om te kwyn.”

Die Solidariteit Beweging (Solidariteit en AfriForum) onderhou goeie betrekkinge met die Trump-administrasie in die VSA en het reeds die afgelope twee weke aan die Amerikaners voorstelle gemaak oor hoe die geskil bygelê kan word. 

“Dit is duidelik dat daar wel in die Withuis en in die Amerikaanse regering oor die algemeen frustrasie is met die voortslepende geskil. President Trump se verdieping van die krisis hou nie te make met sy beweerde haat vir Suid-Afrika nie, maar veeleer met die feit dat hy voel Suid-Afrika se regering reageer nie met erns op sy eise nie. 

“Suid-Afrika se talle misstappe in buitelandse betrekkinge en die afgelope tyd se beledigende taal deur hooggeplaaste Suid-Afrikaanse regeringslui teenoor die Trump-administrasie het ’n vernietigende effek op verhoudings gehad,” sê Kleynhans.

Solidariteit vra nou dat beide lande se regerings met erns na die geskil moet kyk. 

“Gewone Suid-Afrikaners betaal ’n duur prys vir die geveg tussen die twee lande se regerings. Ons glo dat die Trump-administrasie billike eise aan die Suid-Afrikaanse regering stel. Ons glo ook dat die VSA die magtigste land in die wêreld is en dat die land vir sy globale posisie en rol gerespekteer moet word. 

“Suid-Afrika is ’n soewereine land en die Suid-Afrikaanse regering maak sy eie beleid. Suid-Afrika se regering sal egter met erns weer moet kyk na die eise van die Trump-administrasie en hulself die vraag afvra of die prys vir ’n uitgerekte geskil werklik die moeite werd is,” sê Kleynhans.

Intussen sê Kleynhans sal Solidariteit oor die volgende paar dae met verskeie rolspelers wat die G20-beraad bywoon, skakel. 

“Ons hoop van harte dat die beraad goed verloop en dat dit tot groter beleggings in Suid-Afrika kan lei. Wanneer dit met Suid-Afrika se ekonomie sleg gaan, ly almal, ook ons lede, daaronder. Daarom vra ons weer vir die Suid-Afrikaanse regering om met ons saam te werk ten einde oplossings vir die geskil met die VSA te vind. 

“Ons het die afgelope tien maande gereeld na die regering uitgereik, maar ons aanbod vir samewerking is telkemale deur die Ramaphosa-regering weggeklap.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel