Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Suid-Afrika se G20-oomblik: ‘n Piesangskil, ‘n illusie of ‘n verspeelde kans
Pieter Jordaan
Wat beteken die G20-beraad vir Suid-Afrika?
Die nuusmedia was die afgelope weke en dae vól van berigte en artikels waarin hierdie vraag gevra word. In die groter Suid-Afrikaanse media is daar hoofsaaklik ‘n gunstige prentjie van die beraad en Suid-Afrika se rol as gasheer geskep.
Ontleders wys tereg uit dat hierdie ‘n groot geleentheid is, en kritici sê daarom dat Suid-Afrika nie opgewasse is om die geleentheid aan te gryp nie.
Van Solidariteit se eie meningsvormers het ook hulle standpunte oor die beraad gestel en is gevra onder watter omstandighede dit wél ‘n goeie gebeurtenis vir Suid-Afrika en sy mense kan wees.
Jaco Kleynhans: By die G20-beraad sit jy saam om die tafel met grootste ekonomieë in die wêreld. Jy het ‘n geleentheid om leierskap te toon en om jou land aan te bied as ‘n beleggingsbestemming. Die vraag is of Suid-Afrika vanjaar suksesvol daardie geleentheid kan opneem. Een uitdaging is natuurlik dat soveel staatshoofde nie teenwoordig gaan wees nie.
En die vraag is ook of Suid-Afrika daarin gaan slaag om ‘n positiewe beeld vir ‘n toekomsvisie vir Suid-Afrika aan te bied. Dit sal uiteindelik bepaal of ons voordeel trek uit vanjaar se G20-beraad.
Connie Mulder: Ek dink die G20 is goed vir die ANC indien dit suksesvol is. Ek dink nie dit maak regtig vir Suid-Afrika of die G20 saak of dit slaag of nie. Dit is nie soos die sokker-wêreldbekertoernooi van 2010 wat dit baie belangrik was om suksesvol te wees.
In hierdie geval is die ANC baie meer verknog aan die sukses van die G20 as die res van ons.
Dit kan Suid-Afrika laat goed lyk op die internasionale verhoog, maar die probleem is ons het ouens wat doelbewus planne maak om ons te laat sleg lyk. Hulle word die regering genoem. Hulle is al ‘n hele rukkie besig daarmee.
Waar die G20 goed kan wees is as dit kom saam met ekonomiese hervorming en regulasieverandering sodat ons buitelandse belegging kan kry. Daardie druk van buitelandse beleggers kan hopelik op die ANC inspeel.
Dirk Hermann: Suid-Afrika se deelname aan die G20 is veronderstel om vir ons goed te wees. Ons hoort eintlik nie daar nie, want ons is eintlik onder die top 40 ekonomieë, maar omdat ons Afrika is het ons deel van hierdie span geword.
Teoreties is dit ‘n goeie ding. Die probleem is as gasheerland is die wêreld se lig nou op Suid-Afrika. Wat gebeur het is dat al Suid-Afrika se foutlyne nou op die wêreldarena is. Wat gewys is in hierdie tyd is dat Suid-Afrika se posisie in die globale wêreld eintlik afgeneem het.
In daardie sin is die G20 en die feit da tons voorsitter is nie goed vir Suid-Afrika nie.
Suid-Afrika is deel van ‘n groter netwerk. Ons is daar tussen die groot ekonomieë en handelstransaksies gaan gesluit word. Maar daar is ‘n voorwaarde en dit is dat jy ‘n gesonde internasionale diplomatieke beleid moet hê.
Suid-Afrika is dus ‘n mislukking in die sin dat hy nie die voordele kan ontgin nie. Suid-Afrika sal sy diplomatieke beleid moet verbeter sodat ons die volle voordeel van G20-lidmaatskap kan geniet.
Anton van der Bijl: Vraag wat ons moet afvra is of hierdie beraad goed vir my en jou en die man op straat is. Die ANC-regering hou voor alles is mooi en alles soos die ligte en die paaie werk, terwyl ek en jy weet dit is nie die waarheid nie.
Daar word ‘n illusie voorgehou met hierdie G20-beraad wat nie die werklikheid is nie. ‘n Week na die beraad sit ons dan weer met goed wat nie werk nie. Ons behoort die harde werklikhede in die gesig te staar en nie ‘n front voor te hou nie.
As daar werklike introspeksie gedoen word en ons herdink waansigge beleide soso die oor swart ekonomiese bemagting, regstellende aksie en onteiening van eiendom. Dan kan dit ‘n weselike effek hê, maar ek weet nie of die politieke wil daar is nie.