loading
Artikels
4 maande gelede
solidariteit-vs-die-staat

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit vs. die Staat

As deel van Solidariteit se poging om die regering se rasmalheid te beveg, dien Solidariteit se Regsfonds as mobilisering vir druk op die regering. Solidariteit kan met die steun van sy lede die onreg wat die regering op mense afdwing aanspree en wil graag hierdie kwessies onder die wêreld se aandag bring. Lees hier meer oor Solidariteit se hofsake teen die staat.


Deur Maryna Eksteen

Die staat het die afgelope 30 jaar onder die swak regering van die ANC bykans ten gronde gegaan. Demokrasie is boonop stadig maar seker op die agtergrond geskuif namate die staat sy sentralistiese neigings op Suid-Afrikaners afdwing. Nog iets wat in dié tydperk egter duidelik geword het, is dat Solidariteit nie gaan terugsit en kyk hoe ons land geplunder word nie. Ons sal die staat in die bek ruk wanneer hulle waansinnig raak.

Die Solidariteit Regsfonds is gestig met die doel om hofsake wat Solidariteit teen die staat, staatsinstellings en talle ander organisasies aanhangig maak, te befonds. Dit is reeds gebruik waar Solidariteit instellings soos Denel, Eskom of die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) teengestaan het. As deel van Solidariteit se poging om die regering se rasmalheid te beveg, dien ʼn Regsfonds-bydrae ook as mobilisering van druk op die internasionale gemeenskap. Solidariteit het met behulp van die Solidariteit Regsfonds die Suid-Afrikaanse regering ingevolge die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD) by die Verenigde Nasies aangekla oor rassewette van die regering wat Solidariteit as “rasmalheid” bestempel.

Solidariteit kan met die steun van sy lede die onreg wat die regering op mense afdwing aanspreek.

ʼn Oorsig van die Solidariteit Regsfonds 

Solidariteit is bewus van ons mense se toenemende frustrasie oor korrupsie en wanbesteding in ons land, veral wanneer dit by staatsondernemings soos Eskom, Transnet, Denel en talle ander ander kom. Ons fokus dus daarop om hierdie korrupsie oop te vlek en die staat daarvoor verantwoordbaar te hou. Solidariteit kan deur middel van die Solidariteit Regsfonds verseker dat volgehoue druk op die owerhede geplaas kan word om in die beste belang van alle Suid-Afrikaners op te tree.

Hier volg ʼn paar sake waarby Solidariteit betrokke was of waarby hulle tans betrokke is wat danksy die ondersteuning deur lede aan die Regsfonds moontlik is:

Die omstrede Bela-wetgewing

Solidariteit voer al sedert 2017 ʼn stryd teen die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela), met die fokus op die beskerming van ouers, onderwysers, skoliere en skole se regte. Hierdie wet is op 13 September 2024 deur president Cyril Ramaphosa onderteken alhoewel die inwerkingtreding van klousules 4 en 5 weens groot openbare druk vir drie maande uitgestel is. Hierdie uitstellings het geskied na afloop van gesprekke wat tussen Solidariteit en politieke partye, wat ook die ANC insluit, gevoer is.

Die Solidariteit Beweging waarvan Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningstenrum deel is en ander Bewegingsinstellings het op 5 November tesame met nóg burgerlike drukgroepe en politieke partye, soos die DA en Vryheidsfront Plus, ʼn vreedsame optog gehou. Dit is gehou om duidelik te maak dat artikels 4 en 5 van dié wetsontwerp, wat oor die taal- en toelatingsbeleid by skole handel, ʼn rooi lyn is vir hierdie drukgroepe. Hierdie optog het groot golwe gemaak en ʼn benoude reaksie uit die ANC gelok. Klik hier om meer te lees.

Die sperdatum is 13 Desember vir die inwerkingtreding van artikels 4 en 5 van die omstrede Bela-wet. Tog is Solidariteit en enkele ander organisasies tans in ʼn bemiddelingsproses gewikkel in die hoop om ʼn beter oplossing te vind.

Indien dit nie moontlik is nie, sal Solidariteit litigeer.

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, se hunkering na die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) as ’n instrument om ongelykhede in gesondheidsorg reg te stel, getuig van sy verwronge idee van die werklikheid in hierdie sektor. Solidariteit sou graag wou sien hoe kabinetslede in die nuutsaamgestelde regering van nasionale eenheid (RNE) summier wegstap van die NGV-idees, wat volgens alle aanduidings op ’n ramp vir alle Suid-Afrikaners afstuur. Tóg het Motsoaledi met sy terugkeer as minister van gesondheid op nog ’n vals noot begin deur sy uitsprake waarin hy die NGV as ʼn “gelykmaker” voorhou. Solidariteit het op 24 Mei 2024 hofstukke aan die regering beteken en sal die ongrondwetlike, onuitvoerbare en onbekostigbare stelsel met mening in die hof beveg.

Sertifikaat van behoefte

Die Departement van Gesondheid het regulasies ingevolge artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid uitgevaardig waarvolgens mediese praktisyns en praktyke ʼn sertifikaat van behoefte vanaf die Departement van Gesondheid moet verkry alvorens hulle in ʼn sekere gebied mag praktiseer.

Daarsonder sou hulle nie in ʼn bestel onder die NGV kon werk nie.

Solidariteit het ’n groot deurbraak in sy stryd teen die NGV behaal toe hierdie sertifikaat van behoefte – ʼn kernpilaar van die staat se sentralisering van gesondheidsorg – in die hooggeregshof as ongrondwetlik verklaar is. Volgens hierdie uitspraak is artikels 36 tot 40 van die NGV-wet, in die geheel ongeldig. As gevolg van hierdie saak wat deur Solidariteit en ander applikante aanhangig gemaak is, word ’n streep deur die omstrede behoeftesertifikate getrek. Die Departement van Gesondheid moet gevolglik ook Solidariteit en die ander partye se koste dra.

Dit was ʼn eerste belangrike sege in die stryd teen die NGV en voorspel goeie dinge in die veel groter stryd wat wag. Solidariteit staan reg om te litigeer indien die regering nie van sy NGV-planne afstand doen nie.

Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB)

Regstellende aksie, of “rasstellende” aksie soos dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, dit noem, is nie ʼn nuwe onderwerp by Solidariteit nie. In sommige wêrelddele, maar veral  ook in Suid-Afrika, lyk dit of meriete op die agtergrond geskuif word sodat ander  oorwegings soos ras en geslag voorkeur kan geniet wanneer aanstellings in die werkplek gemaak word. Die skep opnuut ʼn stelsel waarvolgens mense op grond van hulle ras uit die samelewing geskuif word.

Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering wat rasbeleide van maatskappye ingrypend verander is 31 Oktober 2023 in die arbeidshof in Johannesburg ʼn bevel van die hof gemaak. Hierdie ooreenkoms volg nadat Solidariteit ʼn klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), ʼn agentskap van die Verenigde Nasies, teen die regering se rigiede rasbenadering gelê het. ʼn Mediasieproses tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering, onder toesig van die IAO het gevolg en dit het tot die ooreenkoms gelei. 
Die hofbevel sê ook die bepalings van die ooreenkoms moet as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word. Die ooreenkoms en bevel van die hof bepaal verder dat niemand op grond van ras of as gevolg van rasplanne afgedank of afgelê mag word nie. Dit bepaal verder dat rasbeleide tydelik moet wees, dat ras nie die enigste faktor mag wees met die opstel van planne nie, én dat die poel van beskikbare vaardighede asook maatskappye se unieke omstandighede in ag geneem moet word by die oorweging van aanstellings.

Toerisme trap in die rassestrik   

Gedurende die Covid-19-inperking, ʼn tydperk wat ʼn geweldige impak op toerisme gehad het,  het die Departement van Toerisme en die Departement van Kleinsake-ontwikkeling ʼn toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) ter waarde van R1,2 miljard bekendgestel. In ooreenstemming met die regering se transformasieplanne vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf het die fonds slegs vir swart sake-eienaars in die toerismebedryf voorsiening gemaak en wit sake-eienaars uitgesluit. President Cyril Ramaphosa, asook die hoof van die Black Business Council, Sandile Zungu, het hierdie inisiatief ten volle ondersteun.

Solidariteit het hierdie diskriminerende benadering tot hulpverlening te midde van ʼn ramptoestand ten sterkste veroordeel en het ʼn saak teen die Departement van Toerisme se rassefonds voor die hof gebring. Solidariteit en AfriForum het op 8 Februarie 2023 daarin geslaag om die Departement van Toerisme se diskriminerende toerismefonds die finale nekslag toe te dien. Dit volg nadat dié departement geappelleer het teen die 2021-uitspraak van die hoogste hof van appèl in Solidariteit en AfriForum se guns dat die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir hulpverlening van die toerisme-ekwiteitsfonds onwettig is.
 
Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die destydse minister van toerisme, het die ekwiteitsfonds in 2020 as ʼn instelling wat slegs lenings en toelae aan ondernemings met swart eienaarskap van minstens 51% sou toestaan bekendgestel. Volgens Solidariteit en AfriForum is die toeken van hulpverlening op grond van ras onredelik. Die Konstitusionele Hof het dít ook beaam en het hierdie optrede van die departement onwettig verklaar.

Vergeet van Suid-Afrikaanse ingenieurs – die staat sorg eerder vir Kubaanse ingenieurs

In 2021 het Lindiwe Sisulu, die voormalige minister van water en sanitasie, dit goedgedink om ʼn land wat ʼn tekort aan water het se ingenieurs te nader om Suid-Afrika se waterprobleme op te los. Soos in die meeste ontwikkelende lande is die meeste Kubane afhanklik van gebottelde water as hul drinkwater. Dié wat dit nie kan bekostig nie, moet hul eie water kook of met chemikalieë behandel wat selde beskikbaar is. Hoe gaan ingenieurs van Kuba die waterprobleem in Suid-Afrika oplos as hulle nie eers Kuba se waterprobleem kan oplos nie?

Soos wat baie dinge in Suid-Afrika op apartheid blameer word, het Kuba ook sy eie sondebok, naamlik Amerikaanse sanksies. Volgens Kubaanse amptenare kan infrastruktuur nie in stand gehou word nie omrede die nodige materiaal nie van die VSA ingevoer kan word nie – so asof die VSA ʼn monopolie op die vervaardiging van materiaal vir watervoorsiening het.

Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) het ʼn verslag oor Suid-Afrika se verhouding met Kuba saamgestel. Lees hier meer oor dié verslag. Solidariteit het op 10 Mei 2021 met minister Lindiwe Sisulu en haar departement vergader. Dit volg nadat Solidariteit ʼn skrywe van dié departement ontvang het in reaksie op die regsproses wat Solidariteit aanhangig gemaak het om die wettigheid van die invoer van die Kubaanse ingenieurs vir waterinfrastruktuurprojekte te bevraagteken. Dit is egter jammer dat die minister die publiek probeer mislei het deur te sê die saak is teruggetrek. Solidariteit het egter steeds die nodige inligting gekry. Op 18 Mei 2021 het Solidariteit hofstukke op haar beteken oor die invoer van Kubaanse ingenieurs en op 1 Junie 2021 het Solidariteit nuwe inligting oor die invoer van Kubaanse ingenieurs bekendgemaak. Van die inligting het getoon dat die Kubaanse ingenieurs wel dienskontrakte het en tot R300 000 per jaar méér as Suid-Afrikaanse ingenieurs betaal word. Lees hier meer.

Die minister het gemeen dat Solidariteit se stryd teen die regering se gebruikmaking van Kubaanse ingenieurs grens aan vreemdelingehaat teenoor die mense van Kuba. Solidariteit meen egter deur nié Suid-Afrikaners aan te stel nie, grens aan plaaslike haat teenoor die mense van Suid-Afrika.

Hoe vaar Solidariteit? Die Noord-Gautengse hooggeregshof het op 12 September 2024 beslis dat die aanstelling van hierdie ingenieurs vir waterinfrastruktuurprojekte deur die destydse minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, onregmatig was.

“NSF”-projek – as dit nie staatskaping is nie, is dit polisiekaping

Solidariteit het in 2018 ʼn hersieningsaansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebring teen die besluit om ongeveer 625 oudlede van uMkhonto weSizwe (MK) en die Azanian People’s Liberation Army (Apla) wat by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werksaam is, te bevorder of hulle range te hersien. Die projek staan bekend as die sogenaamde NSF-projek (“non-statutory forces project”). Die bevorderings sou heeltemal teenstrydig met die heersende arbeidsreg gewees het. Klik hier om meer te lees. Die rede vir die beoogde bevorderings het alleen berus op die individue se destydse lidmaatskap van MK en Apla as sogenaamde vryheidsvegters en nie hulle vermoë nie.

Dit is logies dat die bevorderings ʼn uiters negatiewe effek op die 625 moontlike merietebevorderings van ander SAPS-lede sou gehad het tesame met ʼn moontlike ekstra finansiële las op die belastingbetaler. Solidariteit het ook as deel van die aansoek vir sekere inligting gevra wat ondersoek sou word ten einde te bepaal of die besluit wettig en rasioneel was.

In Desember 2019 het Solidariteit ʼn dringende aansoek na die hooggeregshof verwys ten einde ʼn interdik teen die implementering van die sogenaamde NSF-projek te bekom tot tyd en wyl Solidariteit die inligting ontvang het soos aangevra, en die hersieningsaansoek afgehandel is. Lees hier meer.

Solidariteit se Regsfonds veg vir jou.

Klik hier om binne een minuut by Solidariteit aan te sluit of klik hier vir meer inligting oor die Regsfonds.


Verstikkende rasreëls dryf beleggers weg, beperk ekonomiese groei en hou miljoene mense vasgekeer in armoede. Dit moet stop! Bevry Suid-Afrika van die las van ras – word deel van ons drukgroep: Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel