Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit vs. die staat: Die storie van Dawid en Goliat
Deur Ané Janse van Rensburg
Met ʼn geskiedenis van weerstand wat herinner aan die Bybelse verhaal van Dawid en Goliat, het Solidariteit, as die kleiner, dapper vegter die reusemag van die staat uitgedaag – en keer op keer teen dié magtige teenstander opgestaan. Die jongste deurbraak oor die Bela-wet is maar een van vele gevegte wat Solidariteit die afgelope ruk teen die wetgewing gevoer het.
Die Bela-wet: ʼn Slingerklip teen die reus
Solidariteit is sedert 2017 in ʼn stryd teen die omstrede Bela-wet gewikkel, wat Afrikaanse skole en moedertaalonderrig bedreig. Solidariteit het sterk opgetree, onder andere deur gesprekke met die regering en politieke partye te voer en vreedsame optog te hou. Die resultaat?
Die ooreenkoms, wat gedurende gesprekke by Nedlac gefinaliseer is, skep nou tyd vir nuwe regulasies om vasgestel te word. Hierdie riglyne sal verhoed dat skole wat reeds hul volle kapasiteit bereik het, gedwing word om hul taalbeleid aan te pas. Solidariteit se aksies het ook daartoe gelei dat skole se onmiddellike gemeenskap, eerder as die groter distrik, in ag geneem moet word wanneer toelatingsbeleide bepaal word.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit beskryf die uitkoms as ʼn lang stryd waarin duisende hard gewerk, gebid en gestap het.
Hierdie deurbraak skep tyd vir verdere strategieë en onderhandelings, terwyl Afrikaanse skole hul regte kan behou. Lees hier meer oor dié skikking en sy vereistes.
Regsgevegte teen die staat se wanbestuur
Solidariteit se “kettie” van regsinstrumente, befonds deur sy Regsfonds, het oor die jare talle reuse laat wankel.
- • Nasionale Gesondheidsversekering (NGV): Solidariteit se regsaksie het daartoe gelei dat die artikels van die NGV-wet ongrondwetlik verklaar is en gekeer dat die regering die sertifikaat van behoefte (CON) kon implementeer. Hierdie deurbraak beskerm gesondheidswerkers teen onregverdige regulasies.
- • Toerisme-ekwiteitsfonds: Solidariteit en AfriForum het hof toe gegaan teen die fonds wat wit sake-eienaars uitgesluit het. Die hof het dié rasgebaseerde beleid onwettig verklaar.
- • Kubaanse ingenieurs: Solidariteit het die regering se aanstelling van oorsese ingenieurs as onregmatig bewys, met die hof wat beslis het dat plaaslike ingenieurs bevoordeel moet word.
Lees meer hier.
Die belangrikheid van volgehoue druk
Solidariteit het bewys dat ʼn klein rolspeler met die regte wapens, naamlik sterk lede-ondersteuning, ʼn Regsfonds en strategiese aksies, reuse kan oorwin. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, verduidelik: “Elke oorwinning is nie net ʼn triomf vir Afrikaanse gemeenskappe nie, maar ook vir demokrasie en die beginsels van gelykheid en regverdigheid.”
Nog reuse om te takel
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het ’n alternatiewe gesondheidsorgplan ontwikkel om die tekortkominge van Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel aan te spreek, sonder om op die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) staat te maak. Hul voorstel fokus op verbeterde befondsingsmodelle wat die las tussen verskeie rolspelers versprei, met minder koste vir individue en beter mediese sorg. Hierdie plan is ontwerp om die swak gehalte van openbare gesondheidsorg en die onbekostigbaarheid van privaat sorg te balanseer, sonder om die land se ekonomie te destabiliseer, soos die NGV waarskynlik sou doen. Solidariteit bly aktief betrokke by regsaksies teen die NGV en het reeds belangrike oorwinnings behaal om pasiënte en gesondheidsorgpraktisyns te beskerm.
Lees meer hier.
Solidaritiet, ‘n klein vegter soos Dawid, kan reuse oorwin en sodoende regverdige gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners beding.
In al hierdie gevegte herinner Solidariteit se volgehoue veggees aan Dawid se vasberadenheid: ʼn voorbeeld van hoe moed en strategie selfs die magtigste reuse kan laat val.
Die verhaal van Solidariteit is nie net een van gevegte nie, maar ook een van hoop. Dit wys dat wanneer mense saamstaan, selfs die grootste uitdagings oorkom kan word, want elke Dawid het sy kettie nodig.
Een ding is duidelik: dié klein vegter leer vir die reuseteenstander ʼn les oor die krag van moed, strategie en gemeenskap.