Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
2 jaar gelede
solidariteit-wen-saak-oor-vals-klag-van-rassisme-namens-onderwyser

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit wen saak oor vals klag van rassisme namens onderwyser

Solidariteit het vandag bekendgemaak dat hy ʼn saak wat oor vals beskuldigings van rassisme gehandel het namens een van sy lede gewen het. Dit volg nadat Anneke Smit, ʼn onderwyser, in September 2021 valslik van rassisme beskuldig, geskors en onbillik afgedank is.

Volgens die uitspraak moet me. Smit tien maande se skadevergoeding ontvang en mag sy op 1 Augustus 2022 in haar pos as onderwyser terugkeer skool toe.

Solidariteit verduidelik dat Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, haar appèlaansoek persoonlik van die hand gewys het. Tydens die verhoor by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) is ook bevind dat die aanklagte sowel as die prosedure rakende me. Smit se ontslag ongegrond was en daarom behoort sy in haar pos heraangestel te word.

Anlia Archer, organiseerder by Solidariteit se onderrigsektor verduidelik verder: “Dit is verregaande dat ʼn onderwyser se lewe en werk onder haar uitgeruk is bloot omdat ʼn vals klag van rassisme teen haar aanhangig gemaak is.”

Archer is verder van mening dat daar nie plek in die onderwys is vir aanklagte van rassisme elke keer wat dissipline ter sprake is nie. In me. Smit se saak is die woord “polisiemannetjie” opgevat as “police monkey” en van daar af is ʼn ondersoek teen haar geloods wat haar ontslag tot gevolg gehad het.

“Kamma-rassisme kan nie die aanklag wees elke keer wat iemand ongelukkig is oor ʼn interaksie wat in die klaskamer plaasvind nie. In hierdie geval is ʼn hele gesin se lewe ontwrig deur een vals aantyging,” voer Archer aan.

Solidariteit veroordeel die manier waarop me. Smit ontslaan is en die gemak waarmee die ongegronde aantygings deur die owerhede by die Departement van Onderwys in Gauteng aanvaar is ten sterkste.

“Dit is ʼn sensitiewe saak dat iets eenvoudig, wat daagliks in klasse reg oor die land gebeur, verkeerdelik verdraai is in ʼn aantyging wat iemand se hele lewe kon verwoes. Ons begeef ons op uiters gevaarlike terrein as ons aan kinders die mag gee om ʼn onderwyser se jare lange loopbaan met een vals aantyging te kan beëindig,” sluit Archer af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel