loading
Mediaverklarings
4 maande gelede
solidariteit-wen-saak-vir-lid-wat-valslik-van-rassisme-beskuldig-was

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit wen saak vir lid wat valslik van rassisme beskuldig was

Deur Heléne Leonard

ʼn Lid van Solidariteit het sowat R140 000 in vergoeding ontvang nadat sy valslik van rassisme beskuldig was én toe afgedank is weens ontevredenheid oor hoe sy parkeerplekke aan personeellede toegeken het.

Die arbeidshof het bevind daar is geen konkrete bewyse dat Brichard Pieterse, ʼn voormalige werknemer van South Bakels, opsetlik rassisties was toe haar toekenning van parkeerplekke aan personeel twee swart persone van hulle parkeerplekke ontneem het nie.

Dit was eerder ʼn fout in die parkeerstelsel wat daartoe gelei het dat die betrokke persone hulle regmatige parkeerplekke volgens die indeling kwyt was.

Pieterse was ongeveer ʼn dekade lank ʼn lojale werknemer van South Bakels. Tog is sy deur twee van haar kollegas daar geteiken en van rassistiese optrede beskuldig toe sy personeelparkeerplekke moes toeken.

Al het Pieterse bewys gelewer van die proses wat sy met die toekenning van die parkeerplekke gevolg het, en ofskoon een van die betwiste parkeerplekke buitendien aan ʼn ánder swart vrou toegewys is, is sy vanweë hierdie aantygings van rassisme afgedank.

Solidariteit het gou ingetree om Pieterse by te staan en het ʼn saak namens haar by die arbeidshof aanhangig gemaak. Dié hof het die saak aangehoor en tot die gevolgtrekking gekom dat Pieterse haar inderdaad nie aan rassisme skuldig gemaak het nie, maar bloot ʼn menslike fout begaan het.

Volgens die hofuitspraak is South Bakels gelas om Pieterse met sowat R140 000 te vergoed vir die onreg wat sy moes verduur.

Die oorwinning in Pieterse se saak behoort ʼn sterk boodskap aan werkgewers landswyd te stuur dat afdanking weens ongegronde beskuldigings van rassisme nie geduld sal word nie.

Solidariteit staan gereed om die regte van sy lede te beskerm waar enigiets van hierdie aard ook al mag opduik.

Sluit vandag nog by Solidariteit aan om werkbeskerming in jou beroep te geniet.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel