loading
Artikels
1 dag gelede
sonder-langtermyn-oplossings-beteken-nuwe-amsa-reddingsboei-min

Foto Krediet: Pexels

Sonder langtermyn-oplossings beteken nuwe Amsa-reddingsboei min

Solidariteit verwerp ’n moontlike R3 miljard-reddingsboei vir ArcelorMittal SA (Amsa) as ’n oplossing sonder duidelike langtermynvoordele. Hulle eis groter deursigtigheid van Amsa en die regering oor die plan. Solidariteit versoek dat afleggings opgeskort word en waarsku teen korttermynoplossings wat werknemers in voortdurende onsekerheid dompel. Lees die mediaverklaring hier.


Tensy dit ArcelorMittal SA (Amsa) en die langstaalbedryf onteenseglik oor die langer termyn gaan baat, beskou Solidariteit nie die sprake van ’n nuwe R3 miljard-reddingsboei van die regering as ’n oplossing nie.

Die vakbond eis eerstens veel groter duidelikheid vir sy lede vanaf Amsa asook die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging oor die aard en omvang van die nuwe en tydelike reddingsplan wat glo oor ’n eenjaartydperk sal strek.

Dit lyk boonop of sluitings en die gedwonge aflegging van werknemers steeds voortgaan terwyl Solidariteit wil sien dat dit opgeskort word.

Hierdie nuwe sprake van tydelike redding met behulp van dié regeringsdepartement volg ná die aankondiging vroeër vanjaar oor die sluiting van Amsa se langstaal-aanlegte by Newcastle, Vereeniging en Witbank, en die afleggings wat sou volg.

Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, sê die jongste planne vir noodbefondsing klink, in die afwesigheid van ’n deeglike bloudruk vir die herlewing van langstaal-aanlegte en die groter bedryf, hopeloos té ondeurdag.

Verder skep dit opnuut onsekerheid by werknemers en lede van Solidariteit aan wie daar vroeg vanjaar, na etlike tevergeefse reddingspogings, hierdie slegte nuus gegee is. 

Venter sê daar is heeltemal te veel onbeantwoorde vrae om opgewonde te raak oor hierdie verwikkeling.

“Hoe kan die belastingbetaler se geld gebruik word vir aanlegte wat nie werk nie? Hoe kan ’n groot multinasionale maatskappy geld vra om oop te bly by ’n regering wat sélf nie oor die nodige geld beskik nie?

“En verder, wat gebeur oor 12 maande van nou af, en hoe word die aanlegte volhoubaar gemaak? Dit is ook van kritieke belang dat gesê word watter ingrypingsmaatreëls ook vir die groter industrie gaan geld,” aldus Venter.

Solidariteit se dringende beroep op Amsa én die regering is deursigtigheid in die proses om sodoende te keer dat werknemers later vanjaar, of vroeg volgende jaar, wéér die trauma van aflegging in die gesig staar.

Venter sê daar moet begrip getoon word vir werknemers wat alewig onseker is of hulle steeds ’n werk het of nie. 

“Daarom kán hierdie nie weer net beloftes wees of slegs korttermynhoop gee nie. Ons versoek dus eerstens dat die gedwonge afleggingsproses selfs net tydelik opgeskort word, sodat groter duidelikheid oor hierdie regeringsbystand van R3 miljard aan Amsa verkry kan word. 

“Dit sal ten minste die onsekerheid van lede en die spanning oor dreigende werksverliese verlig,” sê Venter. 

Solidariteit versoek dat die afleggingsproses opgeskort word of eers hervat wanneer ’n duidelike antwoord van die regering ontvang is oor die reddingsboei.

Konsultasie tussen vakbonde en Amsa oor die afleggings duur môre (14 Maart) voort.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel