loading
avatar
Artikels
2 weke gelede
staat-wil-jou-mediesefonds-belastingeise-gaps-om-vir-sy-onwerkbare-ngv-te-betaal

Foto Krediet: Solidariteit

Staat wil jou mediesefonds-belastingeise gaps om vir sý onwerkbare NGV te betaal

Deur Pieter Jordaan

Die belang van Solidariteit se hofsaak teen die Nasionale Gesondheidsversekeringsmodel (NGV) is hierdie week opnuut beklemtoon deur uitsprake van staatsamptenare oor mediesefondsbelastingkrediete.

So hoe raak dit lede van mediese fondse self? Luister na wat Theuns du Buisson aan PretoriaFM gesê het, of lees hier verder.

Indien jy aan ʼn mediese fonds behoort, kon jy tot dusver toe jaarliks hierdie bedrag van die ontvanger terugeis, of jou werkgewer sou hierdie maandelikse bedrag van R364 vir jou as hooflid inreken. Vir die hooflid van ʼn gesin van vier kan dit ʼn maandelikse besparing van R1 220 beteken.

Hierdie krediet dien as beloning vir jou keuse om nie ʼn las op die openbare gesondheidsorgstelsel te wees nie, en as beloning vir die koste wat jy aangaan om privaat sorg te kry.

Daardie koste is natuurlik baie hoog, dit weet ons almal. Indien die regering nou, soos beplan, hierdie krediete van jou tot niet maak, styg jou fondsbydrae met nog ʼn paar honderd rand.

Vir die NGV-projek sal dit glo nagenoeg R34 miljard in die sak bring. En selfs al word hierdie bedrag verantwoordelik aangewend, is R34 miljard maar ʼn druppel in die emmer inaggenome dat kritici bereken het dat die volle implementering van die NGV-model tot en met R1 000 miljard kan kos.

Vir ʼn gewone lid kan dit egter sorg dat maandelikse mediesefondsbydrae te veel word.

Dan moet hy ook op die verwaarloosde en skandaalgeteisterde openbare gesondheidsorgstelsel steun – een wat reeds ʼn swak diens aan etlike miljoene Suid-Afrikaners (probeer) lewer.

Solidariteit se argument was nog altyd dat hierdie openbare stelsel veel liewer verbeter as vergroot moet word. Om ʼn slegte stelsel in ʼn groot NGV te omskep gaan heel duidelik ʼn ramp afgee.

Daarom is dit onaanvaarbaar om te sien hoe daar met beplanning vir die NGV volhard word, selfs al het die regering die hof genader om te vra dat alle hofaksie téén die NGV eers gestaak word.

Hy redeneer die regsaksie kan nie voortgaan terwyl die konstitusionele hof eers moet besluit of president Ramaphosa se ondertekening van die wet geldig was nie.

Tog beur die Departement van Gesondheid en sy NGV-hoofman, Nicholas Crisp, voort met beplanning soos gesien met die onlangse uitsprake oor belastingkrediete.

Suid-Afrikaners kan dit nie duld nie. Solidariteit gaan beslis nie en sal ook hierdie saak oor die krediete by sy regsaksie voeg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel