loading
avatar
Artikels
4 dae gelede
staatsbeheer-oor-bks-entstof-plaas-veeartse-onder-druk

Foto Krediet: Wavebreakmedia

Staatsbeheer oor BKS-entstof plaas veeartse onder druk

Deur Heléne Mocke

’n Onlangse hof- en kostebevel teen die Suid-Afrikaanse minister van landbou, John Steenhuisen, het die dispuut oor bek-en-klouseer verder laat opvlam. Die regsaksie is deur Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou aanhangig gemaak.

Waaroor gaan die hofsaak?

Die hofsaak handel oor die dispuut oor wie beheer moet hê oor die verkryging en toediening van die BKS-entstof.

Die staat wil sentrale beheer behou oor hoe die entstof bekom en toegedien word, terwyl landbou-organisasies aanvoer dat privaat rolspelers – insluitend boere en veeartse – ook toegelaat moet word om die entstof te verkry en toe te dien.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, wys die hofbevel hoe groot die gaping tussen beleid en praktyk geword het.

“Die hofbevel en gepaardgaande kostebevel teen die minister van landbou het opnuut gewys hoe ver die burokratiese wêreld van die staatsdiens, en die erns en dringendheid van veeboerderye van mekaar verwyder is.”

Die volgende hofdatum is vir 28 April bepaal.

Waarom die inentingsplan omstrede is

Parallel met die hofsaak het die minister se konsep-inentingsplan nuwe teenkanting ontketen – veral oor hoe dit poog om die rol van veeartse te reguleer.

Die Suid-Afrikaanse Veeartsenyvereniging (SAVA) en die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) het die plan veroordeel.

Hulle beswaar fokus op ’n bepaling wat vereis dat privaat veeartse addisionele goedkeuring van Red Meat Industry Services (RMIS) moet kry voordat hulle aan die nasionale inentingsprogram kan deelneem.

Volgens dié organisasies is die vereiste nie wettig volhoubaar nie en skep dit onnodige burokratiese struikelblokke.

SAVA sê die situasie vereis ’n dringende wetenskaplik gefundeerde reaksie.

“SAVA en sy lede werk onverpoos ter ondersteuning van staatsoptrede om die huidige epidemie te stuit. Enige maatreël wat die integriteit van die beroep benadeel of die oppergesag van die reg ondermyn, kan egter nie ondersteun word nie.”

SAVA waarsku dat die vereiste die statutêre gesag van die veeartsenyberoep aantas en ’n gevaarlike presedent kan skep.

Bestaande stelsels vs. nuwe beheer

Die kern van die spanning lê by die vraag of bestaande strukture voldoende is – en of nuwe beheermaatreëls nodig is.

Rolspelers voer aan dat organisasies soos SAVA en RuVASA, saam met bestaande veeartsenyregulering, reeds funksioneel is en ’n kritieke rol in siektebeheer op grondvlak speel.

Volgens hulle kan nuwe vereistes wat buite hierdie gevestigde raamwerke val, die sektor se kapasiteit verswak en die tempo van inenting vertraag.

Terselfdertyd waarsku rolspelers in die rooivleisbedryf, insluitend RMIS, dat regsaksie en beleidsonsekerheid die uitrol van die entstof kan vertraag en die hele waardeketting – van produsente tot verbruikers – in gevaar kan stel.

’n Groter beginselstryd

Hoewel die dispuut op die oppervlak oor entstof handel, raak dit aan ’n veel breër beginsel.

Die balans tussen staatsbeheer en privaat deelname – en spesifiek of die staat die rol van bestaande professionele strukture, soos die veeartsenyberoep, kan oorheers – is op die spel.

Vir kritici het die debat nou ’n duidelike ideologiese dimensie: dit gaan oor privatisering teenoor staatsentralisering.

Waar die staat sentrale beheer wil versterk, voer voorstanders van privaat deelname aan dat doeltreffende en volhoubare oplossings juis lê by bestaande organisasies, professionele outonomie en privaat inisiatief.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel