loading
avatar
Artikels
1 week gelede
staatsprojek-met-opvoedkundige-speelgoed-word-toe-yslike-solidariteit-projek

Foto Krediet: Solidariteit

‘Staatsprojek’ met opvoedkundige speelgoed word toe yslike Solidariteit-projek

Deur Kyla-Ann du Toit

Wat begin het as ʼn groot skenking bestem vir ʼn staatsinstelling, het danksy die krag van gemeenskap uiteindelik beland dáár waar dit hoort, in die hande van honderde maatskaplike werkers.

Eureka DIY Solutions se besluit om by die 3 800 bokse vol opvoedkundige speelgoed aan die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, eerder as aan ʼn staatsinstelling toe te vertrou, dra ʼn boodskap van hoop daarmee saam wat wyer as net die maatskaplike beroepsveld strek.

“Eureka het ons genader omdat hulle hulself met Solidariteit se kultuur van integriteit kon vereenselwig,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

“Hulle het geweet by ons sou die speelgoed nie herverkoop word nie, maar reg aangewend word, daar waar dit die grootste verskil gaan maak.”

Die duisende bokse met speelgoed was aanvanklik vir vroeëkinderontwikkelingsentrums onder staatsbeheer bestem. Smit verduidelik waarom Eureka egter besluit het om eerder na Solidariteit as ontvanger te draai.

“Nadat ongelukkigheid en konflik met die aanvanklike ontvanger ontstaan het, wou Eureka DIY Solutions eerder ʼn skenking aan ʼn organisasie maak wat meer betroubaar is,” sê Smit. “Hulle het besluit om die skenking aan Solidariteit toe te vertrou, en só is hierdie ongelooflike projek van samewerking gebore.”

SA Truck Bodies het ʼn trok heeltemal gratis beskikbaar gestel om bokse Kaap toe te neem.

Wat hierdie projek so besonders maak, is hoe Solidariteit se verskillende beroepsnetwerke hande gevat het om ʼn enorme logistieke uitdaging te oorkom om die speelgoed wyd in verskeie streke te versprei.

“Ons het regtig baie gesukkel om hierdie bokse by die netwerk se lede uit te kry. Ons is vandag nog besig om dit by lede in verskeie streke af te lewer,” vertel Smit. “Ons wou dié hulp nie net tot Gauteng beperk nie, maar juis daar uitkry waar die behoefte die grootste is.”

Een van die grootste verspreidingspunte was die Wes-Kaap waarheen 135 stelle speelgoed – meer as 800 bokse met speelgoed – moes gaan. “Die vervoerkwotasies was astronomies hoog,” sê Smit. “Toe gryp die Solidariteit Ambagnetwerk in, reik na hul kontakte uit en reël deur SA Truck Bodies dat ʼn trok heeltemal gratis beskikbaar gestel word om die bokse Kaap toe te neem. Ons het geen onkoste gehad nie – dit was suiwer ʼn daad van goedhartigheid van almal betrokke omdat hulle in die bemagtiging van ons maatskaplike werkers glo.”

Ontvangers kry elk een stel wat uit ses bokse met opvoedkundige speelgoed bestaan.

Hierdie gebaar het nie net die finansiële las oorkom nie, maar ook ʼn duidelike boodskap uitgestuur van hoe twee beroepsnetwerke mekaar ondersteun om só ʼn gemeenskap sterker te maak.

AfriForum het ook gehelp met die verspreiding in Bloemfontein waar een van hul plaaslike takke gehelp het om die bokse by die maatskaplike werkers uit te kry.

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel in Kraaifontein het ook stoorruimte beskikbaar gestel vir bokse wat in die Kaap aankom sodat lede dit maklik daar kan gaan afhaal.

Solidariteit se eie personeel het ook hande met die Maatskaplikewerkersnetwerk gevat om die projek moontlik te maak.

Eureka DIY Solutions het byna 3 800 bokse vol opvoedkundige speelgoed aan Solidariteit geskenk.

“Hierdie projek is net nóg ʼn bewys van hoe ʼn netwerk leef – van hoe verskeie mense hande kon vat om ʼn netwerk te versterk,” sê Smit.

Die speelgoed, ontwerp vir terapeutiese en opvoedkundige gebruik, word reeds in skole, kleuterskole, kinderhuise en privaat praktyke gebruik.

“Die dankies, sosialemediaplasings en foto’s stroom in. Baie van die maatskaplike werkers sê hulle het nog nooit só ʼn groot skenking ontvang nie,” sê Smit. “Dit is ongelooflik om te sien hoe die speelgoed reeds in terapiesessies gebruik word.”

In sommige gevalle is bokse selfs aan ander organisasies of skole geskenk waar ʼn maatskaplike werker geweet het die behoefte is groter. Só versprei dit nóg verder as wat oorspronklik beplan is.

ʼn Maatskaplike werker ontvang haar stel bokse.

Dit is nie net die waarde van die skenking wat hierdie projek so besonders maak nie, maar ook die manier waarop die bokse versprei is: sonder staatskanale, net deur die gemeenskap wat saamstaan. Van Eureka, tot die trokbestuurder tot die maatskaplike werker in ʼn klein dorpie – almal was deel van ʼn ketting van hoop.

“Soos wat hierdie bokse versprei word, word hoop daarmee saam versprei,” sê Smit. “Dit is die krag van ʼn netwerk wat leef en van mense wat saam besluit om ʼn verskil te maak.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel