
Foto Krediet: Twitter: @ParliamentofRSA
Gekopieër
Staatsrede: Sonder planne en in die verlede verstrengel
Die verkondiging van vals hoop in die staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa beklemtoon die wrede minagting waarmee die ANC-regering die mense van Suid-Afrika kul.
Solidariteit beskou dié ooglopende leë beloftes, en die versuim om die eindelose gebreke op bykans elke vlak van staatsdiens enigsins te noem, as kwaadwillige oneerlikheid met die doel om kiesers ’n rat voor die oë te draai voor die verkiesing.
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), weerspreek die werklikheid wat Suid-Afrikaners van alle inkomstegroepe ervaar, die aansprake wat pres. Ramaphosa in sy staatsrede gemaak het.
“Hy moet gedurig sy ampstermyn met ’n tydperk van 30 jaar gelede vergelyk, eerder as vyf jaar gelede. Dit opsigself is ’n erkenning dat Suid-Afrika, onder sy toesig, nie net gestagneer het nie, maar voor ’n afgrond staan.
“En dan die beloftes: Die president praat van ’n groeiende ekonomie, terwyl ons ’n ekonomiese krisis beleef. Hy spog oor die versterking van die polisiediens, en tog is misdaad hier buite beheer. Hy eis selfs ’n skietstilstand in Gaza, terwyl die skote op eie bodem sonder ophou klap.
“Dan praat hy van regeringsprogramme om werk te skep terwyl werkloosheid hoër as 40% is en werkloosheid onder jongmense tot hoër as 60% steier. Hy roem op vooruitgang met skole en die onderwys, terwyl daar in der waarheid met wetgewing van funksionele Afrikaanse skole ontslae geraak wil word.”
Volgens Mulder vertel die president van sy ampstermyn waarin die ekonomie herbou, herwin en hernu is, terwyl die teenoorgestelde voor ons oë afspeel.
“Wie sal nog beloftes glo oor planne wat gemaak is om kragvoorsiening en logistieke uitdagings op te los? Ons spoorweë is aan flarde, maar die president kondig planne aan om so gou as moontlik hoëspoedtreine tussen Johannesburg en Durban los te laat.
“Dan vertel hy vroom hoe mense in afgeleë gebiede in der waarheid staatshospitale bó privaat hospitale verkies, sonder om die gesondheidsorgkrisis wat in daardie streke bestaan, te erken,” sê Mulder.
Pres. Ramaphosa het verder ook sy voorneme uitgespreek om die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering tot wet te verklaar deur te se hy “soek nog net ’n pen”.
Solidariteit beskou die belofte van “gratis gesondheidsorg” as bloot nóg ’n leë belofte – maar een met baie ernstige gevolge.
“Dit is duidelik dat die regering, ongeag hulle hopelose getuigskrif, nog meer mag vir homself toe-eien. Dit terwyl Suid-Afrikaners juis die federale afwenteling van magte na gemeenskappe toe benodig,” sê Mulder.
“Wat Suid-Afrikaners nié nodig gehad het nie, was dié toespraak sonder enige nuwe planne of idees. Selfs nuwe byvoeglike naamwoorde ontbreek. Dit is ’n skaamtelose herhaling van dieselfde mislukte planne, in die hoop dat dit stemme vir die 2024-verkiesing sal werf.
Volgens Mulder is die enigste hoop wat uit die staatsrede geput kan word, die hoop wat bestaan dat dit die laaste staatsrede onder die ANC was.
“Die ANC gebruik die staatsrede om die land se geskiedenis oor en oor vir ons te beskryf, sonder om enigiets daadwerklik te doen wat die land se toekoms sal verbeter.
Pres. Ramaphosa sê as’t ware dat mense liewer nie hulle eie oë moet glo nie, maar eerder die ANC se woorde moet glo, met ander woorde, “ons kul jou hier, ons kul jou daar… stem tog vir ons, vir nog ’n jaar…”