
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Stel jou eerste CV só saam!
Deur Karin Venter
Die eerste indrukke wat ’n potensiële werkgewer van jou kry, is op papier. Nog voordat jy eers genooi word vir ’n onderhoud, word jy op papier evalueer. Die saamstel van ’n goeie CV is dus baie belangrik om jouself bekend te stel om ’n goeie eerste indruk te skep. Om jou eerste CV saam te stel, is egter glad nie so eenvoudig soos dit klink nie. Die probleem is nie die tipe inhoud nie, maar juis die tekort aan relevante inligting en veral ervaring. Met verloop van tyd raak dit al hoe makliker om die belangrikste inligting in ’n CV te behou en uit te brei oor vorige ervaring. Indien jy sopas skool of universiteit voltooi het, kan die volgende paar wenke jou dalk help.
- Stel ’n voorblad op
Die voorblad is die eerste kontak wat ’n onderhoudvoerder met jou het en jy moet jou inligting so eenvoudig moontlik weergee. Sluit die volgende inligting in: naam en van, identiteitsnommer, kontaknommers en die pos waarvoor jy aansoek doen. Stel jouself bekend in ´n kort paragraaf. Vermy foto’s tensy dit gepas is vir die tipe pos waarvoor jy aansoek doen.
- Lys jou persoonlike besonderhede
Die volgende inligting is van belang by hierdie afdeling: doopname en van, geboortedatum, geslag, tale magtig, lisensie-besonderhede, gesondheid, huwelikstatus, woonadres en e-posadres.
- Formele opleiding en kwalifikasies behaal
Indien jy ’n skoolverlater is, kan jy jou matriekvakke met punte hier aandui. As jy reeds verder studeer het, kan jy die kwalifikasies en kursusse wat jy voltooi het, in volgorde met die heel onlangse kwalifikasie bo-aan, hier aandui. Maak seker dat die hoogste kwalifikasie wat jy behaal het tesame met die jaar, duidelik gemerk is. Jy kan selfs ’n gewaarmerkte afskrif van jou kwalifikasies by jou CV aanheg.
- Werksgeskiedenis en vorige ervaring is die kritieke afdeling op ’n CV
Leerlinge wat vakansiewerk tydens hul skooljare gedoen het, het die voorsprong in hierdie afdeling. Lys die plekke waar jy gewerk het, die tydperk van jou indiensname en jou verantwoordelikhede. Indien moontlik kan jy ’n kontakpersoon en -nommer byvoeg vir verwysings (vra net eers toestemming van jou vorige werkgewer).
- Laastens volg vaardighede, leierskapsposisies, naskoolse aktiwiteite en gemeenskapsbetrokkenheid
Stel ’n kort lysie van komitees en organisasies saam waarby jy betrokke was tydens jou skooljare en skoolvakansies. Noem ook vaardighede waaroor jy beskik en prestasies wat jy behaal het. Die inligting verskaf aan die onderhoudvoerders ’n goeie idee van die tipe mens wat jy is en waarin jy belangstel.
Laaste gedagtes:
Jy kan jou getuigskrif van die skool aanheg as verwysing. Die meeste skoliere en studente se eerste CV sal dus uit bykans twee bladsye bestaan met min inligting onder elke afdeling. ’n CV met ’n netjiese uitleg wat kort en kragtig saamgestel is, maak dit egter vir werkgewers makliker om ’n opsomming van die persoon te maak. Dit is nie nodig om oorboord te gaan met inligting nie en moet veral nie oneerlik wees nie. Let veral ook op taalgebruik en spelling en beklemtoon inligting wat verband hou met die spesifieke pos waarvoor jy aansoek gedoen het. Sorg dat jou kontakbesonderhede korrek aangedui is sodat die werkgewers jou maklik in die hande kan kry. Dit is ook raadsaam om foto’s van jouself op jou CV te vermy.
Solidariteit wil saam met jou die oorgang van jong mens na jong werkende aandurf! Jou ledevoordele mag dalk net die sleutel tot jou sukses wees.
Raak tuis by Solidariteit en word deel van ʼn reuse-helpmekaargemeenskap wat saam met jou op jou loopbaanpad stap.