Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe om oorlading by die werk te vermy, veral teen die einde van die jaar
Deur Karen Waldeck
Ons wil almal meer uit ons werksdag kry. Dit hoef egter nie ten koste van jou persoonlike tyd of welstand te gebeur nie. Jy kan jou produktiwiteit verhoog sonder om oorweldig te voel. Dit begin deur slim te werk, deur bewus te wees van jou regte in die werkplek, en deur ʼn balans te handhaaf wat jou toelaat om doeltreffend te werk sonder om al jou energie op te gebruik.
1. Stel realistiese doelwitte en bestuur jou tyd doeltreffend
ʼn Mens wil altyd jou beste gee en dan laai jy dikwels meer hooi op jou vurk as wat jy kan hanteer. Dit lei gou tot oorweldiging. Die sleutel lê in prioritisering. Kies drie tot vyf van die belangrikste take wat jy in ʼn dag wil voltooi, en fokus daarop. Hierdie strategie help jou om ʼn gevoel van prestasie te ervaar sonder om in die spervuur van take vasgevang te raak. As jy voel dat jou werkslading te erg raak, is dit belangrik om dit met jou werkgewer te bespreek.
Jou regte as werknemer sluit in die reg om iets omtrent jou werkslading te doen as dit jou vermoë oorskry. Werkgewers is verplig om ʼn veilige en gesonde werksomgewing te bied, wat ook beteken dat hulle nie onrealistiese eise aan jou mag stel nie. Lees meer oor jou regte in die werkplek hier.
2. Skei werk en persoonlike tyd – en hou by jou werksure
In die digitale wêreld waar ons altyd met die werk in verbinding is, kan dit moeilik wees om jou werklewe van jou persoonlike lewe te skei. Jy mag voel dat jy 24/7 bereikbaar moet wees om met jou take by te hou en om produktief te bly, maar dit is nie gesond nie. Die afbakening van jou werksure is noodsaaklik vir jou geestelike en fisieke welstand. Wanneer jy tyd vir jouself neem, gee dit jou brein kans om te rus en te herlaai. Dit help jou ook om meer produktief te wees wanneer jy weer werk toe gaan.
Dit is jou reg om binne jou gespesifiseerde werksure te werk. Suid-Afrika beskik oor arbeidswette wat die werknemer teen oormatige ure beskerm. Lees hier oor jou regte oor werksure.
3. Gebruik tegnologie om jou produktiwiteit te verhoog, nie om jou te oorweldig nie!
Tegnologie is ʼn wonderlike hulpmiddel, maar dit kan ook ʼn groot bron wees wat die aandag aflei. Deur die regte gereedskap te gebruik kan jou help om gefokus te bly en tyd te spaar. Gebruik taakbestuursprogramme soos Trello of Asana om jou projekte op te spoor en take te prioritiseer. E-posprogramme soos Gmail het ingeboude opsies om jou e-posse te filtreer en te organiseer, wat jou help om tyd te spaar.
Die belangrikste is egter om nie in hierdie tegnologie verstrik te raak nie maar om dit te gebruik om jou te help. Stel spesifieke tye vas wanneer jy jou e-posse nagaan of jou dag beplan, eerder as om voortdurend afleidings te hê. Dit help jou om op die werk voor jou gefokus te bly. Om tegnologie optimaal te gebruik, bly die balans tussen fokus en doeltreffendheid noodsaaklik. Lees hier meer oor hoe tegnologie jou produktiwiteit kan verbeter.
4. Balanseer werk met selfsorg
Produktiwiteit begin by jou welstand. Dit is belangrik om jou fisieke en geestelike gesondheid in ag te neem wanneer jy jou werk doen. Maak seker dat jy genoeg pouses gedurende die dag neem. Staan op, strek jou bene, en gee jou brein kans om af te skakel. Beplan ook tyd vir oefening en ontspanning ná werk. Jou liggaam en gees werk beter wanneer jy ʼn balans handhaaf.
Werkgewers het ook ʼn verantwoordelikheid om jou welstand te ondersteun. Dit sluit in om jou toegang tot welstandsprogramme of pouses vir ontspanning te bied.
5. Kwaliteit bo kwantiteit
Ons dink soms dat produktiwiteit slegs afhang van die aantal ure wat ons insit, maar dit is eerder die kwaliteit van werk wat tel. Deur jou eie werkmetodes aan te pas en slim te werk, kan jy meer bereik met minder inspanning. Kyk krities na jou werkgewoontes: Hoeveel tyd spandeer jy aan dinge wat jou nie direk help om jou doelwitte te bereik nie? Sodra jy jou gewoontes aangepas het, sal jy vinniger en meer doeltreffend werk, en boonop sal jy minder oorweldig voel.
Wees bewus van die feit dat jy jou stem mag gebruik as jy voel jou werk plaas onrealistiese druk op jou.
Om jou produktiwiteit te verhoog, hoef nie ʼn bron van stres te wees nie. Hier in die pylvak van die jaar voel ʼn mens dikwels moeg en oneffektief, maar die vakansie is om die draai. Indien onbillike dienspraktyke in jou werkomgewing toegepas word, staan Solidariteit reg om jou saak te beveg. Skep jou gratis profiel op Solidariteit, waar jy meer kan leer oor jou regte in die werkplek. Indien jy nog nie ʼn lid is nie, klik hier om binne ʼn minuut by Solidariteit aan te sluit.