loading
Artikels
2 maande gelede
stel-slim-doelwitte-saam-met-jou-kind

Foto Krediet: OkayDeer

Stel SLIM-doelwitte saam met jou kind

Deur Marisha Hermann

Dis daardie tyd van die jaar waar doelwitte vir die komende jaar gestel word. Dis belangrik dat kinders reeds op skool hulle drome nastreef. Jy as ouer kan daarmee help deur jou kind te leer hoe om SLIM-doelwitte te stel en hulle te motiveer om dit te bereik.

SMART is ’n akroniem wat gebruik kan word om doelwitstelling en die bereiking van die doelwit te vergemaklik. Gesels met jou kind oor wat hulle graag wil bereik, waarna julle saam die SMART-metode gebruik om te bepaal hoe die doelwit bereik gaan word.

Die “S” staan vir spesifiek. Wees gefokus en bepaal presies wat jou kind wil bereik. As jou seun die eersterugbyspan wil haal en die beste een in die span wil wees met sy skopwerk, gaan hy ’n spesifieke doelwit moet stel om dit te bereik. Stel byvoorbeeld die doelwit dat hy die bal elke dag 50 keer oor die pale moet gaan skop.

Die “M” in SMART staan vir meetbaar. Kan jy die doelwit wat jy gestel het, meet? Elke doelwit sal op ʼn ander manier gemeet kan word; bepaal daardie maatstaf. Jou seun sal byvoorbeeld elke skop kan tel wat hy oor die pale skop. Hy sal ook definitief weet dat hy die span gehaal het, die oggend as sy naam afgelees word vir die eerstespan.

Die volgende ding waarna gekyk moet word, is of die doelwit bereikbaar is – die A (“attainable”). Is dit in jou seun se vermoë om die eersterugbyspan te haal of moet hy eerder sy passie vir hokkie uitleef? Visualiseer saam met jou kind hoe die doelwit bereik gaan word. Dit gee daardie ekstra bietjie motivering in die proses.

Vra jouself dan af: Is die doelwit realisties en relevant tot die groter prentjie? Dis die “R” in SMART. Dit is inderdaad relevant tot die groter prentjie as jou seun elke dag 50 keer die bal oor die pale gaan skop. Dis egter nie realisties om te sê dat hy elke dag 50 keer die bal oor die pale moet gaan skop nie. Pas die doelwit aan om dit meer realisties te maak. Verander die doelwit eerder na twee ure se oefening elke dag waarvan skoppe ook deel is van die oefening.

“T” staan vir tydgebonde. Koppel ʼn tydperk of tydslimiet aan die doelwit. Wanneer jy die doelwit aan ʼn tyd koppel, sal die motivering om die doelwit te bereik, verhoog. Bepaal wanneer jou kind die doelwit wil bereik en ook hoeveel tyd hy daaraan moet afstaan per dag of week om die doelwit te bereik.

Dis belangrik om te besef dat die doelwit tydens hierdie proses aanpasbaar is vir verbetering. Doelwitte moet nooit ʼn las of straf vir jou kind wees nie. Dit moet dien as motivering sodat jou kind sy of haar volle potensiaal kan ontwikkel.  

Maak die proses op hierdie manier interessant:

Harde werk moet definitief beloon word! Kry vir jou kind ʼn paar boksies Smarties. Skryf jou kind se SLIM doelwit op die Smartie-boksies – een doelwit per boksie. Plaas die Smarties op ʼn plek waar jou kind dit kan sien en gemotiveer voel om die doelwit te bereik.

Wanneer die doelwit bereik word, kan jou kind die sukses gaan vier met Smarties!

Maak nog SLIM-besluite deur betrokke te raak by Solidariteit se Skoliere-aanbod. https://solidariteit.co.za/skoliere-aanbod

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel