
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Sterre in die gemeenskap: Gemeenskap met buitengewone bydraes
Deur Heléne Leonard
Solidariteit se jaarlikse Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het weereens buitengewone” mense op ʼn besonderse wyse vereer.
Hierdie toekennings, waar werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het op Dinsdagaand 5 Desember by die AfriForum-teater in Menlopark, Pretoria, plaasgevind.
Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gewerk is.
ʼn Skenking van R7 243 108,00 is aan die Helpende Hand Studietrust oorhandig om jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.
Nog ʼn skenking van R28 086 742,00 is aan Solidariteit se opleidinginstellings oorhandig om sodoende nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.
“Solidariteit se volgende groot doelwit is die bou van ʼn onafhanklike skool, wat ʼn hupstoot sal gee aan ʼn onafhanklike Afrikaanse skolekonsessiesnetwerkplan. Sodoende gee ons momentum aan ʼn alternatiewe Afrikaanse skolestelsel,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens gedoen word.
Daar was toekennings vir die Aptekernetwerk-, Kantoorpraktisyn- en Ambagnetwerke. Die onderskeie wenners is deur ʼn nominasie- en stemproses aangewys
Die ontvangers van hierdie pryse is soos volg:
Die #Kantoorkampioenwenner is Jeanette Osborne; die #JouYster-wenner vir 2023 is Rozanne Herion; en die #JouYster-studiebeurswenner is Delarey van der Merwe. In die onderskeie katetorieë vir Onderwyser van die Jaar is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Robé Grech-Wessels; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Vicki Kriel; en Hoërskoolonderwyser van die Jaar is Helene-Louise Rossouw. Die Apteek van die Jaar is Ackermans Apteek.