loading
Mediaverklarings
6 maande gelede
straf-boodskappers-van-kamma-rassisme-indien-ondersoek-niks-oplewer

Foto Krediet: Okay Deer

Straf boodskappers van kamma-rassisme indien ondersoek niks oplewer

Solidariteit gaan die Gautengse Onderwysdepartement se besluit om in te meng en op eie stoom ’n soektog na rassisme by Pretoria High School for Girls van stapel te stuur, fyn dophou.
Dit volg na die kwytskelding van 12 leerders van die skool deur die beheerliggaam, wie se tugverhoor beslis het die leerders is onskuldig aan aanklagte van rassisme wat spruit uit gesprekke op ’n WhatsApp-groep in Oktober 2023.
Hierdie WhatsApp-gesprekke het die afgelope weke skielik aan die lig gekom en het wye mediadekking geniet.
Die 12 leerders se skorsing is na die verhoor opgehef, maar die skoolhoof, me Phillipa Erasmus, se tydelike skorsing van 90 dae, omdat sy glo klagtes rakende die einste insident geïgnoreer het, bly sover bekend nog van krag.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, wil Solidariteit weet waarom haar skorsing nie opgehef is noudat dit blyk haar optrede was wel geregverdig en ’n ondersoek geen teken van rassisme bevind het nie.
“Dit is iets wat die Gautengse LUR, Matome Chiloane, moet beantwoord. Hy sê die provinsiale departement van onderwys respekteer die beheerliggaam se bevindings, maar dan wil hy ongenooid sélf ’n ’onafhanklike’ ondersoek doen om te bepaal of daar ’n kultuur van rassisme by die skool bestaan.
“Solidariteit se boodskap aan mnr Chiloane is tweeledig: Ons sal nie julle ywerige soektog na rassisme belemmer nie, maar ons verwag ook optrede indien niks aan die lig kom nie, aangesien die beskuldigings van en agterdog oor rassisme dan heel moontlik vals was,” sê Botha.
Volgens Botha het die beskuldigings en die mediadekking daarvan die 12 leerders en personeellede aan kritiek blootgestel wat nie net tot reputasieskade nie, maar heel moontlik ook tot emosionele skade gelei het.
“Dit sal boonop nie die eerste keer wees dat Gautengse regeringsamptenare hulle aan die roekelose smousery met rassekonflik skuldig maak nie. Soos met Elana Barkhuizen het talle onderwysers, leerders en skole al onder vals aanklagte van rassisme deurgeloop, sonder dat diegene wat vir die klagtes verantwoordelik was, werklik aan die pen ry.
“Hierdie vals rassismeklagte behoort in ’n veel ernstiger lig beskou te word. Solidariteit eis in sulke gevalle optrede teen mense wie se valshede rassekonflik op ’n kwaadwillige wyse aanblaas – in ’n tyd wanneer Suid-Afrikaners juis brûe tussen gemeenskappe probeer bou,” sê Botha.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel