![tyd-vir-sunday-world-om-sy-sokkies-op-te-trek-na-nog-n-verskoning](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-link-image-5-1.jpeg)
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Tyd vir Sunday World om sy sokkies op te trek ná nog ʼn verskoning
Solidariteit het nóg ʼn verskoning van Sunday World oor die publikasie van vals aantygings ontvang en hoop dié beslissing kan as ʼn oproep dien vir meer verantwoordelike verslaggewing deur hulle en ander media-organisasies. Lees die verklaring hier.
Solidariteit en AfriForum het nóg ʼn verskoning van Sunday World oor die publikasie van vals aantygings ontvang en hoop dié beslissing kan as ʼn oproep dien vir meer verantwoordelike verslaggewing deur hulle en ander media-organisasies.
Die persombudsman het opdrag aan Sunday World gegee om in sy gedrukte en aanlyn weergawe verskoning te vra en ʼn regstelling te plaas nadat hy in ʼn meningsartikel op 17 November beweer het die “apartheidvlag het hoog gewapper” tydens ʼn protesoptog teen die Bela-wet by die Voortrekkermonument.
Dit het genoeg rede vir Sunday World gebied om AfriForum as sy “Moegoe of the week” te bestempel.
Ná klagtes van sowel Solidariteit as AfriForum as die organisasies wat vir die reëlings van die optog verantwoordelik was, is bevind Sunday World het wel klousule 1.3 van die perskode oortree deur ʼn ongegronde bewering as ʼn feit voor te hou nadat vasgestel is dat die ou Suid-Afrikaanse vlag nie gedurende die optog vertoon is of gewapper het nie.
Volgens Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, lê die probleem nie noodwendig by die duidelike persoonlike vooroordeel in meningsartikels soos dié een in Sunday World nie, maar in die onverantwoordelike plasing van onbetroubare inligting – en die gevolge daarvan.
“Ons is dankbaar dat daar redelik gou ʼn beslissing was wat ʼn regstelling en ʼn verskoning van die publikasie geëis het. Kommentators is uiteraard geregtig op hulle menings, maar hulle het nie die reg om die waarheid te verdraai om sodoende ʼn mening te “versterk” nie.
“Die Bela-protesoptog op 5 November was ʼn historiese geleentheid waartydens groot getalle mense saam, en op ʼn ordelike wyse, vir die behoud van Afrikaanse en moedertaalonderrig opgestaan het.
“Dit is duidelik dat die Sunday World-kommentator nie daarvan gehou het nie en dit is weliswaar sy volste reg. Maar om dit met beskuldigings oor die gebruik van simbole (wat die kommentator boonop met Nazi-simbole vergelyk het) aan te dik, is kwaadwillig of ten minste nalatig,” sê Jordaan.
Dit is boonop die tweede keer in sowat twee maande wat die persombudsman teen Sunday World in AfriForum se guns beslis. In November 2024 het die ombudsman ook bevind dat die koerant valslik aangevoer het dat AfriForum beweer dat wit volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is, asook dat dié organisasie weier om homself teen moorde op swart mense uit te spreek.
Dié valse aantygings is in Augustus 2024 in Sunday World gemaak.
Volgens Jordaan moet Sunday World ʼn beter poging aanwend om nuus op ʼn gebalanseerde wyse aan te bied.
“Hierdie gebeure behoort ʼn waarskuwing vir die redakteur, Ngwako Malatji, te wees. Om kort-kort ongegronde aantygings te maak en dan net ʼn verskoning te plaas is nie aanvaarbaar nie en ons verwag beter.
“Ook die leserspubliek verwag beter – iets wat duidelik in die kwynende leser- of kykergetalle van eens sterk nuusorganisasies gesien kan word. Solidariteit is weliswaar nie bo kritiek verhewe nie, maar verwag dat dit op ʼn regverdige wyse moet geskied,” sê Jordaan.