
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Studeer nauurs aan Akademia – ons vertel jou meer
Deur Maryna Eksteen
Om te kan studeer is ʼn groot voorreg maar dit kan soms uitdagend wees as jy wil studeer terwyl jy werk. Daarom bied Akademia ʼn nauurse afstandstudiemodel aan wat dit moontlik maak om nauurs vir verskeie beroepe te kwalifiseer. Dié model word deur ʼn landswye netwerk van sentrums of via e-leer in die gemak van jou eie huis aangebied.
Akademia is ʼn Christelike, onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe wat die beginsel van die klassieke universiteitswese onderskryf. Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én die hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.
Akademia het tans vier nauurse fakulteite en die fakulteite se nauurse aanbod sien so daaruit:
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Nagraadse Diploma in Belasting: Hierdie kwalifikasie is bedoel vir studente wat ʼn loopbaan in belastingwese wil volg en bied gevorderde kennis, vaardighede en analitiese vermoëns in die belastingdissipline aan studente. Klik hier om meer te lees.
Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde: Hierdie kwalifikasie het ten doel om studente as bestuursrekenmeesters voor te berei en rus studente toe met insig in die wêreld van finansiële bestuur vanuit ʼn korporatiewe en individuele perspektief. Lees meer hier.
Gevorderde Diploma in Projekbestuur: Hierdie kwalifikasie rus die student toe om die beginsels van projekbestuur te verstaan en om dié beginsels in die praktyk toe te pas sodat projekte suksesvol ontwikkel en bestuur kan word. Klik hier om meer te lees.
BCom (Bestuursrekeningkunde): Met hierdie graadkursus word studente toegerus om die beginsels van Bestuursrekeningkunde te bemeester en in die praktyk toe te pas. Loer hier vir meer inligting.
BCom (Ekonomie en Regte): Die Baccalaureusgraad in Ekonomie en Regte is ʼn kwalifikasie vir ʼn loopbaan in die ekonomie en die regte. Studente leer om die beginsels wat in die ekonomie en die regte geld te verstaan en om die beginsels in die praktyk toe te pas. Lees meer hier.
BCom (Finansiële Beplanning): Hierdie kwalifikasie fokus op die beginsels van die ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning en stel die student in staat om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Die student word ook voorberei vir verdere studie in ekonomie of finansiële bestuur. Klik hier om meer te lees.
BCom (Ondernemingsbestuur): Hierdie graadstudie gee studente ʼn stewige teoretiese onderbou van die studieveld. Lees meer hier.
BComHons in Ondernemingsbestuur: Hierdie kwalifikasie rus studente toe met die nuutste ondernemingsbestuurskennis en -vaardighede en ontwikkel bevoegdhede om probleme in ʼn globale besigheidbestuurskonteks te ontleed en op te los. Lees meer hier.
Die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie: Die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie bemagtig die student om moderne kantooradministrasiepraktyk te verstaan en toe te pas en om basiese administratiewe funksies suksesvol uit te voer. Klik hier om meer te lees.
Die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde: Hierdie kwalifikasie rus ʼn student toe met praktykgerigte kennis oor belasting, bestuursrekeningkunde, finansiële rekeningkunde en ouditering. Klik hier vir meer inligting.
Fakulteit Geesteswetenskappe
BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie): Danksy hierdie graadkwalifikasie sal ʼn student in staat wees om eietydse kwessies deur ʼn interdissiplinêre benadering te beskou en ʼn breë begrip daarvoor te ontwikkel. Klik hier vir meer inligting oor hierdie kwalifikasie.
Fakulteit Regsgeleerdheid
Baccalaureus Legum (LLB): Die LLB-graad is daarop gerig om bekwame, vaardige en dinamiese regsgraduandi te lewer wat toegerus is met deeglike kennis en begrip van alle toepaslike regsbeginsels. Lees hier meer.
Fakulteit Opvoedkunde
Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys): Die doel van die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) vir Senior Fase- en VOO-onderwys is om aanvanklike professionele opleiding aan studente te gee met die fokus op die ontwikkeling van die nodige pedagogiese inhoudskennis, vaardighede en ervaring in die werkplek. Klik hier om meer te lees.
Solidariteit-lede kwalifiseer vir ʼn eenmalige korting per kind vir studie aan Akademia. Solidariteit-lede met lidmaatskap van 12 maande en langer sal vir ʼn korting van R3 000,00 op hul kind se studie kwalifiseer. Solidariteit-lede met lidmaatskap van vyf jaar en langer sal vir ʼn korting van R6 000,00 op hul kind se studie kwalifiseer. Solidariteit-lede met lidmaatskap van tien jaar en langer sal vir ʼn korting van R9 000,00 op hul kind se studie kwalifiseer.
Indien jy graag een van die bogenoemde kursusse nauurs wil volg, klik hier vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na navrae@akademia.ac.za. #RaakTuis by Solidariteit en sluit vandag nog hier aan om jou studiegeleenthede en -voordeel te ontgin.
Neem jou toekoms in jou eie hande. Saam kan ons vry, veilig en voorspoedig wees.