Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Student tot Meester 2026: Waar jou loopbaan reeds voor jou eerste werk begin
Robin-Lee Maré
Die sprong van student na jong werkende kan intimiderend voel. Ná jare se klasse, eksamens en harde werk wag daar skielik ʼn nuwe uitdaging: Hoe kry jy jou voet in die deur van die beroepswêreld?
Dit is juis waaroor Solidariteit se Student tot Meester-netwerkgeleentheid, wat op 9 September by Loft at Nine in Menlopark plaasgevind het, gegaan het.
Die geleentheid het studente die kans gebied om weg van die lesingsaal met mense te gesels wat reeds hul plek in die beroepswêreld gevind het. Entrepreneurs, mentors, kundiges en sakeleiers het hul kennis en ervaring gedeel, terwyl studente terselfdertyd die geleentheid gekry het om vrae te vra en waardevolle kontakte op te bou.

Volgens Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Studente-aanbod, is dit belangrik dat studente nie wag totdat hulle hul kwalifikasie in die hand het voordat hulle aan professionele netwerke begin bou nie.
“Professionele netwerke begin nie eers wanneer jy jou eerste werk kry nie. Deur vroeg reeds betekenisvolle verhoudings met kundiges, kenners, mentors en sakeleiers die beroepswêreld te bou, gee ons aan studente nie net toegang tot geleenthede nie, maar ook ʼn netwerk waarop hulle hul loopbane kan bou.

“Hierdie netwerke is baie belangrik wanneer hulle dan begin aansoek doen vir hul eerste werk. Want soms gaan dit nie oor wat jy weet nie, maar oor wie jy ken,” sê Burger.
Om ʼn kwalifikasie te verwerf, is een stukkie van die legkaart. Om te weet hoe om daardie kennis in die werkplek toe te pas, waar om geleenthede te soek en met wie om kontak te maak, is ʼn heel ander uitdaging.

Met die jaarlikse Student tot Meester-geleentheid wil Solidariteit juis dié gaping help oorbrug deur studente reeds tydens hul studies aan die beroepswêreld bloot te stel.
Vir ʼn Akademia-student wat BEd in Grondslagfase-onderwys studeer, was die waardevolste deel van die aand juis die geleentheid om direk met mense uit die beroepswêreld te gesels.
“Om vanaand om ʼn tafel te kon sit en al my vrae oor werk en die beroep te kon vra, was vir my baie waardevol,” sê sy.
ʼn BCom-student in Finansiële Bestuursrekeningkunde het ʼn eenvoudige dog belangrike boodskap uit die aand saamgeneem: “Doen waarvoor jy lief is en waarvoor jy ʼn passie het, want wat jy ook al vir die res van jou lewe gaan doen, moet jy ten minste geniet.”

Dit maak ook nie saak of ʼn student reeds presies weet waarheen hulle op pad is, of nog probeer uitwerk wat ná hul studies moet gebeur nie. ʼn Gesprek met iemand wat reeds die pad geloop het, kan soms die raad, kontakte of selfs net die bietjie selfvertroue bied wat nodig is om die volgende stap te neem.
Die aand het daarom nie net oor werksoek gegaan nie, maar oor iets wat lank ná die eerste werksaansoek waarde kan hê: verhoudings.

Want ʼn loopbaan begin nie noodwendig die dag waarop jy jou eerste dienskontrak onderteken nie. Dit begin reeds met die mense by wie jy leer, die vrae wat jy vra en die netwerk wat jy mettertyd uitbrei.
En vir die studente wat vanjaar se Student tot Meester-geleentheid bygewoon het, het daardie netwerk op 9 September ʼn bietjie groter geword.
Hou dus Solidariteit se Studentelewegroep dop vir meer inligting oor toekomstige geleenthede wat jy kan bywoon.