loading
Artikels
1 week gelede
student-tot-meester-hoe-netwerkgeleenthede-toekomstige-loopbane-vorm

Foto Krediet: OkayDeer

Student tot Meester: Hoe netwerkgeleenthede toekomstige loopbane vorm

Wanneer die regte mense bymekaar kom, gebeur daar wonderlike dinge. By ’n Student tot Meester-geleentheid het Christiaan Strydom vir René Albertyn ontmoet – en dit het sy loopbaan sommer ’n groot hupstoot gegee. Ontdek hoe hierdie netwerkgeleentheid tot ʼn werksaanbod gelei het en hoekom jy nie die volgende een moet misloop nie!


Deur Laurilé Nel

Wanneer geleenthede soos die Student tot Meester-netwerkfunksie plaasvind, ontstaan daar dikwels waardevolle konneksies wat toekomstige loopbaangroei kan beinvloed. Een so ʼn storie is dié van Christiaan Strydom en René Albertyn. Christiaan, wat toe nog net ʼn student was, het by hierdie geleentheid vir René, ’n suksesvolle rekenmeester asook direkteur by CMV Rekenmeersters, ontmoet. Hierdie ontmoeting het uiteindelik vir Christiaan tot ‘n pos by CMV gelei – ʼn stap wat sy loopbaan laat afskop het. In hierdie artikel deel hulle hul ervarings en insigte oor die waarde van hierdie geleentheid.

Vrae en antwoorde met Christiaan Strydom

Hoe het jy van die Student tot Meester-geleentheid gehoor, en hoekom het jy besluit om dit by te woon?
Die geleentheid was geadverteer op een van Akademia se WhatsApp-groepe. Ek het besluit om dit by te woon om meer duidelikheid oor my loopbaan te kry en om te netwerk met mense in my beoogde beroep. Ek het niks gehad om te verloor nie, en dit was ʼn gulde geleentheid om waardevolle inligting in te win.

Wat was vir jou die waardevolste deel van die geleentheid?
Die waardevolste deel was die praktiese inligting en loopbaanadvies wat die meesters gedeel het. Dit het my gehelp om beter insig te kry in die beroepe en om realistiese verwagtings te vorm oor wat om in die werkplek te verwag.

Hoe het jy in kontak met René Albertyn gekom, en hoe het dit tot jou werk by CMV gelei?
By hierdie geleentheid het ek met René gesels en ek was beïndruk deur die waardevolle, praktiese inligting wat sy oor die rekenmeestersberoep gedeel het. ‘n Rukkie ná die geleentheid het ek weer aan ons gesprek teruggedink en besluit om my CV in te stuur na CMV. René het my onthou en ek is genooi vir ‘n onderhoud – wat uiteindelik tot my aanstelling gelei het.

Hoekom sal jy hierdie geleentheid vir ander studente aanbeveel?
Dit is ʼn unieke geleentheid om met geleerde en ervare mense in jou beoogde beroep te netwerk. Die insig en advies wat jy kry, help jou om ingeligte loopbaanbesluite te neem en gee jou ʼn realistiese blik op die werkplek. Ek sal dit beslis aanbeveel, want dit het my loopbaan ʼn waardevolle hupstoot gegee.

Vrae en antwoorde met René Albertyn

Hoekom het jy besluit om ʼn meester te wees by die Student tot Meester-geleentheid?
CMV het dit gesien as ʼn gulde geleentheid om relevante kennis en praktiese inligting oor te dra aan studente wat op ʼn belangrike lewenspad is. Toe ek studeer het, was daar nie sulke geleenthede nie. Ek glo dit maak die oorgang van studie na werk baie makliker vir jongmense.

Wat het jou beïndruk van Christiaan as kandidaat?
Christiaan het by die geleentheid uitgestaan as ʼn opgevoede, professionele jong man wat maklik was om mee te gesels. Ek kon sien hy het ʼn goeie kop op sy skouers en het ʼn volwasse benadering tot sy loopbaan. Dit het beslis ʼn positiewe indruk gemaak.

Watter raad sal jy aan studente gee wat sulke geleenthede wil bywoon?
Moenie bang wees om met mense te gesels en vrae te vra nie. Netwerke is van onskatbare waarde in die besigheidswêreld. Skryf belangrike inligting neer en hou kontak met die mense wat jy ontmoet – dit kan jou loopbaan vorentoe baie help.

Wat dink jy is die waarde van hierdie tipe netwerkgeleenthede vir beide studente en meesters?
Dit bied studente toegang tot praktiese inligting en werklike loopbaanadvies wat hulle nie in handboeke sal vind nie. Vir meesters bied dit die geleentheid om met jong talent te verbind en hul kennis te deel. Dit skep ʼn unieke platform waar twee wêrelde bymekaar kom en mekaar verryk.

Christiaan se suksesverhaal is ʼn bewys van die waarde van netwerkgeleenthede. Dit bied nie net blootstelling aan die beroepswêreld nie, maar skep ook werklike geleenthede vir jongmense om hul loopbane vorentoe te vat. René se bereidwilligheid om kennis te deel en Christiaan se inisiatief om sy loopbaan te bou, beklemtoon die krag van hierdie tipe geleenthede.

Wil jy ook deel wees van ʼn netwerk wat jou toekoms kan vorm? Moet dan nie die volgende Student tot Meester-geleentheid misloop nie! Raak deel van die Finansiesnetwerk vir geleenthede soos die!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel