
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Studiefondsbekendstelling vir die Finansiesnetwerk
Deur Heléne Leonard
Solidariteit se Finansiesnetwerk, in samewerking met die Helpende Hand Studietrust (HHT), het onlangs ‘n opwindende nuwe studiefonds bekendgestel, naamlik die Osk Lukas Taljaard Studiefonds. Die komiteelede van hierdie fonds sluit in Rickus Botha, die netwerkorganiseerder van die Finansiesnetwerk.
Doel van die studiefonds
“Die Finansiesnetwerk beskou hierdie geleentheid as ‘n loopbaanpad wat saam met die beurshouers ontwikkel word. Hulle wil nie net ‘n studiegeleentheid aan ‘n jongmens bied nie, maar ook saam met hom of haar stap en ‘n loopbaanpad bewandel sodat hy of sy uiteindelik ‘n meester in die finansiële beroep kan word,” vertel Botha. Dit sal jong mense in staat stel om ander beurshouers te raadpleeg en te ondersteun. Hierdie persoon sal dus bemagtig word om op sy of haar beurt terug te ploeg en ‘n positiewe invloed op ander jong mense te hê, sodat toekomstige beurshouers goeie mentors in die beroep kan hê.
Die studiefondse is ‘n inisiatief wat voortspruit uit die Solidariteit-topbestuur se behoefte om geleenthede vir jongmense te skep om in hul gekose beroepe te groei. Elke beroepsnetwerk word aangemoedig om ’n studiefonds te stig en sodoende by te dra tot die ontwikkeling en bemagtiging van jong talente in die betrokke beroepsveld.
Hoe die studiefonds werk
Die studiefonds se komitee is die oorhoofse besluitnemingsstruktuur wat verantwoordelik is vir die koördinering van insette van rolspelers en die fasilitering van besluite met betrekking tot keuringskriteria, goedkeuring van studente en die deursigtigheid van fondse se prestasie. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van elke netwerk se adjunksekretaris, asook ander relevante gedelegeerdes soos koördineerders en organiseerders, volgens die komitee se mandaat en konstitusie.
HHT speel ‘n belangrike rol in die verskaffing van die platform en ondersteuning vir die fondsbestuur, administratiewe en debiteure-afdelings. Die Studietrust se afdelings sluit in fondsbestuur, administrasie en finansies-debiteure. Hierdie afdelings is verantwoordelik vir die bestuur van die fondse, die hantering van studenteaansoeke, die administratiewe ondersteuning van studente, finansiële kontroles en die terugbetalingsproses.
Die betrokkenheid van die leiers van die Studietrust–afdelings, soos hierbo genoem, by die komitee is noodsaaklik om kontinuïteit te verseker en ‘n vlot funksionering van die fonds te verseker. Daar sal ‘n fondsbestuurder aan elke beroepsnetwerk toegewys word om die dag-tot-dag-bestuur van die fonds te hanteer.
Die Studietrust se standaardaansoekproses en sperdatums sal gevolg word, soos dit ook van toepassing is op die Solidariteit Beweging se akademiese en beroepsopleidingsinstellings. Verslaggewing oor die fondse se prestasie sal gereeld verskaf word volgens die riglyne van die individuele beroepsnetwerk-studiefonds se stigtingooreenkoms, die komitee, die Studietrust en die Solidariteit-topbestuur.
“Die nuwe Osk Lukas Taljaard Studiefonds is ‘n opwindende geleentheid wat jongmense in die finansiële beroepe bemagtig en hulle die hulpmiddels bied om tot leiers in hul vakgebied te vorder,” sê Willem Blackie, fondsbestuurder by HHT. Die gemeenskap en die Solidariteit Beweging as geheel kan net voordeel trek uit die groeiende talent en die mentorskap wat hierdie fonds moontlik sal maak.