
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Studiemetodes 101: Wat jy en jou kind moet weet
Deur Ané Janse van Rensburg
Elke ouer wil hul kinders die beste moontlike kans op akademiese sukses gee. Solidariteit se Skoliere-aanbod en “MyHoërskoolpad” is daarop gemik om hierdie doelwit te ondersteun met ’n reeks waardevolle hulpmiddels, insluitend verskeie studiemetodes wat by elke kind se unieke leerstyl pas.
Elke leerder is anders. Sommige kinders floreer wanneer hulle visuele hulpmiddels gebruik, terwyl ander verkies om deur luistermetodes te leer. Daar is ook kinders wat verkies om aan praktiese take deel te neem. Deur die regte studiemetode te kies, kan jou kind sy of haar begrip van die vak of onderwerp verbeter en sodoende stres verlig, wat uiteindelik tot beter prestasies sal lei.
“MyHoërskoolpad” bied ‘n verskeidenheid aflaaibare dokumente oor verskillende studiemetodes wat jou kind kan gebruik om hul leerproses te vergemaklik. Die studiemetodes sluit oorhoofs die volgende in:
Opsommings en spinnekopdiagramme
Hierdie visuele hulpmiddels help leerders om kernkonsepte vinniger te identifiseer en te verstaan. Opsommings maak dit makliker om groot hoeveelhede inligting saam te vat, terwyl spinnekopdiagramme verbindings tussen idees duidelik uitbeeld.
Oudio-inhoud en videolesse
Dit is ideaal vir leerders wat beter op ouditiewe of visuele stimulasie reageer. Oudio-inhoud kan herhaaldelik geluister word, wat die geheue versterk. Videolesse bied ‘n interaktiewe manier om komplekse konsepte te verstaan.
Toetse en selfassesserings
Gereelde assesserings of toetse help om begrip van die inhoud te toets en aanpassings te maak waar dit nodig is. Dit gee leerders die kans om swakplekke in hul kennis te identifiseer en daaraan te werk voordat die finale eksamen aanbreek.
Flitskaarte
Hierdie metode is uitstekend vir die onthou van blitsfeite, definisies of terme. Deur flitskaarte gereeld te gebruik, kan leerders kort en kragtige herhaling toepas om hul kennis te versterk.
Die goue reël is om verskillende studiemetodes op die regte tyd in jou kind se leerroetine in te span. Dit is belangrik om jou kind te help om te eksperimenteer met die metodes wat die beste by sy of haar styl pas. Moedig hulle aan om gereeld na te dink oor wat vir hulle werk, en om buigsaam te wees en veranderings te maak soos wat hulle nuwe uitdagings in hul studie teëkom.
Solidariteit se “MyHoërskoolpad” bied ‘n reeks hulpmiddels wat nie net akademiese sukses bevorder nie, maar ook jou kind aanmoedig om verantwoordelikheid vir hul eie skoolloopbaan te neem.
Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en raak deel van die Skoliere-aanbod waar jy en jou kind toegang kry tot ʼn wêreld van netwerke en hulpmiddels wat hulle in hulle skoolloopbaan bemagtig!